Oukei, kom ek wees eerlik en speel oop kaarte.
Dit is vier maande vandat ek myself voorgeneem het om myself in ‘n sokkerliefhebber te omskep.
Wat ek myself belowe het ek gaan gees vang, sokkerreëls leer, aanterlike sokkerspelers se name leer en myself voorberei vir die Wêreldbeker.
Die eerlike waarheid is ek hou steeds nie van sokker nie. Ek hou nie van sport nie. Punt. En geen Wêreldbeker gaan my diep renons in sport skielik aanwakker nie.
Sjoe, ek voel sommer beter noudat ek dit hardop gesê het.
Maar, besef ek toe vanoggend toe ‘n nagmerrie my wreed uit die slaap geruk het: ek hoef nie van sokker te hou om opgewonde te wees oor die Wêreldbeker nie.
Oor minder as drie weke skop ‘n geskiedkundige gebeurtenis in ons land af en ek gaan deel wees daarvan. Weliswaar op my manier, maar ek gaan steeds eendag kan sê ek was daar.
Baie dinge rondom die Wêreldbeker maak my opgewonde. Soos om te hoor hoe praat uitlanders in hogere Londense aksente oor hoe mooi die inkopiesentrum is wanneer ek na werk by my naaste P&P indraf.
En elke oggend werk toe tel ek meer en meer sokkervlaggies op motors se ruite. Dan stuur ek sommer skietgebedjies op vir Bafana Bafana – nie omdat ek van sokker hou nie, maar omdat dit my land is. En daarom my span is. En omdat die Wêreldbeker gaan gebeur. Of jy nou daarvan hou of nie.
Ek gaan dit nie aan myself doen om in ‘n stadion na ‘n wedstryd te gaan kyk nie. Groot groepe mense maak my senuweeagtig. Ek weet nie eers of ek ‘n hele sokkerwedstryd in die gemak van my eie sitkamer sal kan kyk op die televisie nie. Maar steeds maak dit my nie minder opgewonde nie.
Kom nou Sokkerwêreldbeker! Dat ek die gebeurtenis op my eie manier kan geniet en waardeer. Want voel oor sokker soos jy wil, hierdie gaan oor meer as net ‘n bal.