Ek is mal oor dans, maar eintlik het ek twee linkervoete.
Maar daar is darem min dinge so lekker as om jou oor te gee aan musiek se meusleurende polsslag.
Veral sokkie. Langarm met ‘n man wat weet wat hy doen, is genoeg om my hart week te maak. Ek lyk allermins soos ‘n swaan, maar gee nie ‘n flenter om wanneer staalarms my sekuur oor ‘n dansvloer stuur nie.
Maar los dans kan ek nie. Selfs toe ek en my maats nog soms klubs toe gegaan het, het ek soos ‘n stokkie gestaan wat net deur die wind van links na regs gewaai word. Nie ‘n mooi gesig nie.
Tog hou ek van aerobiese klasse (nie dat ek dit doen nie) en vermaak gereeld vriende met sangers se danspassies. Tydens ‘n onlangse 80’ies party was ek tot die een wat met beenverwarmers uiteindelik ‘n Body Beat klas aangebied het.
So ritme het ek – al werk my voete nie saam nie – en wanneer die musiek pols en dit nie in ‘n klub is nie, is dit tog asof my stywe heupe ‘n lewe van hul eie kry.
En nou het ek uiteindelik iets gekry van die sokker wat my voete behoorlik laat jeuk: Die Diski-dans. Nadat ek dit die eerste keer gesien het, kon ek nie wag om by die huis te kom om die danspassies voor ons verbaasde honde te oefen nie.
Ek sal nou nie vir Michael Jackson aanvat nie, maar dit is glad nie so moeilik nie – as jy al ‘n aerobiese klas oorleef het, sal jy dit ook kan doen.
Dit is regtig lekker. Klap jou hande hier, beweeg jou heupe daar, hop op een voet in die rondte en, siedaar! jy doen ‘n perfekte sokker-dansie.
Die dans is juis gebasseer op hoe sokker gespeel word – ritmies, effens afshow-erig, maar beslis opwindend. Suid-Afrikaanse toerisme het die danspassies oorspronklik vir ‘n advertensie uitgedink, maar toe dit oorsee uitgesaai word was dit so ‘n treffer dat dat Diski-dansers nou die land vol reis om mense danswys te maak.
En ek kan sommer net sien hoe mooi sal dit lyk as ‘n skare mense dit spontaan saam begin dans so op die paviljoen. Ek moes myself gister keer net om dit nie ingedagte in Pick-‘n-Pay uit te voer toe die lang tou uiteindelik begin beweeg nie.
Ek wens iemand soos Nicholis Louw, Kurt Darren of Snotkop wou my onder hul vlerk neem en my lomp passies tot ‘n meesterstuk afrond sodat ek dit wel in openbare plekke kan doen, maar ek is so opgewonde oor die dansie dat ek tot nou tot sommer weer opgewonde is oor die sokker.
Nou moet die Diski-dans net hierdie eentjie in ‘n swaan verander – een met ‘n vuvuzela in die bek.
* Lucia Swart-Walters is 'n joernalis by Huisgenoot