Blogger:

Huisgenoot

Die Sirkusmense

E-pos
Print
Jaco Hough-Coetzee
Jaco Hough-Coetzee

Die vuilwit sirkustent het verlede week langs Ontdekkersweg verrys.

So skuins agter die Westgate-winkelsentrum, het ons opgewonde dit gesien toe ons daar verby ry.

En ek het Seun belowe: as hy Donderdagmiddag sy Afrikaanse toets onder die knie het, kan ons die aand sirkus toe gaan. En daarna roadhouse toe.

Hy het gedink dit was om hóm te treat – maar eintlik het ek dit vir myself gedoen. Want ek onthou jare gelede toe ek 'n kind was: die opgewondenheid as die sirkus die dorp kom besoek; die slapies wat afgetel word tot die groot dag.

Toe was daar drie of vier groot sirkusse wat die land deurkruis het. Daar was olifante en waaghalse en motorfietse en blink kostuums en sweef-artieste en towenaars en 'n volledige blaasorkes.

Maar vandag is dit anders, het ek gou besef toe ek en Seun Donderdagaand ons plekke op die verrinneweerde plastiekstoele, wat op die afgeleefde houtstellasie staangemaak is, ons sit kry.

Vandag is dié sirkus die enigste wat oor is in die land, lees ek in die brosjure. En hulle trek finansieel swaar, sien ek.

'n Mens kan dit sien aan die toerusting, die tent, die optredes, die kostuums, die stoele. Hulle toer glad nie meer so wyd en so gereeld nie – daarvoor is daar eenvoudig nie meer geld nie. Ook nie vir skouspelagtige ligte, blink apparate, nuwe vangmatte of goeie klank nie. Weg is die groot diere, die blaasorkes, die doodsveragtende toertjies.

Maar ek sit Donderdagaand op 'n blou plastiekstoel langs Seun en kyk hoe die narre rondhardloop en mekaar klap en oor hul eie voete val. Ek sien hoe die kinders lag. En ek besef: ten spyte van alles gee hulle steeds hul beste – want hulle doen dít wat hulle die graagste wil doen. Met hul sonverbleikte karavane vat hulle steeds die langpad en speel hul harte uit. Nou net bietjie anders as 20 jaar gelede.

Na die vertoning het ek eenkant buite gaan staan en die mense dopgehou wat uitkom en na hul duur motors stroom. Verby die afgeleefde en deur-getoerde afgedopte karavane van die sirkusmense het hulle gestap.
Seun het nog binne gebly om na die ponies te kyk.

Toe sien ek hoe die uiters seksueel aantreklike jong gimnas na my aangestap kom.

Voor haar vertoning is sy aan die gehoor bekend gestel “as die nuutste Russiese sensasie wat Europese gehore op hol het en wat vir net twee maande eksklusief in Suid-Afrika optree”.

Ek kyk hoe sy naderstap en voor my kom staan. Haar swaar grimering is sweet-stof-besmeer. Haar kostuum nou minder blink in die aandlig. Die Russiese sensasie staan voor my.

En toe, in foutlose Afrikaans met 'n effense Bolandse aksent, vra sy my vir 'n sigaret.

Ek het haar hand vasgehou terwyl ek die sigaret vir haar opsteek. En toe sy die rook uitblaas, sê sy: “Dit was 'n lekker show vanaand. Dis lekker as die mense dit so geniet!”

En dis waarom ek en Seun Donderdagaand in ons karavaan langs die huis gaan slaap het. Dis oor die sirkusmense, sien. En die Russiese sensasie met die Bolandse aksent wat haar hart van dorp tot dorp uitspeel.

- Jaco Hough-Coetzee (Joernalis, Huisgenoot)



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (6)


  1. Liandi
    2010/10/09 11:40:37 nm
    Aww kyk vir Rudz!
  2. Danie Nel
    2010/03/17 02:14:06 nm
    Dis waar dat sirkuse sekerlik besig is om uit te sterf. Deesdae is die hele Suid-Afrika n sirkus. Lagwekende dinge gebeur in die rigering, bedrog en misdryf van finansies is miskien nie rerig snaaks nie, maar die manier waarop dit hanteer word verbaas my. Die "Scorpions" was byvoorbeeld die een groot organisasie wat n inpak gemaak het op sulke tipe misdade, maar aangesien hulle die groot visse gevang het, het die grootkoppe hulle vinnig keelaf gesny. Om maar een snaakse optrede te noem.
  3. Linda
    2010/02/10 08:51:44
    Ongelukkig het alles agteruit gegaan. Dit is ook nie meer veilig om sirkus toe te gaan nie. Hoekom begin iemand nie 'n sirkus op 'n permanente adres met meer veiligheid nie. Dan kan ons bespreek en enige tyd gaan kyk. Die diere kan ook meer uitgestal word vir almal om te sien. Jy betaal by die hek ingang en bekyk die diere, drink koffie by die restaurantjie en gaan kyk die vertoning. Daar sal ook beter tiolet geriewe wees.
  4. Cathrine
    2010/02/03 03:56:48 nm
    Ek voel ook saam met hierdie mense,dit kan nie maklik wees in vandag se dae nie,en nogsteeds probeer hulle die mens vermaak,ek dink nie hulle kry eers veel geld vir wat hul doen nie. As ek die lotto wen,gaan my geld beslis in die sirkusmense en diere in ploeg.
  5. Dalene
    2010/02/01 11:58:15 nm
    Wat 'n mooi storie! Dit is so hartseer dat sirkusse so swaar trek. Ek was nog altyd mal oor die sirkus!
  6. Gargantuan
    2010/01/30 06:24:02 nm
    Het nog altyd van sirkus gehou al is die sit plekke vuil maar die laaste vertoning wat ek (2003,2004) het ek gesê miskien sal ek oor 5 jaar weer gaan kyk aangesien die vuur vertoning nie goed was. Ek het altyd van die vuur vertonings gehou maar ek het baie van die vuur vertoning in ander vertonings gesien, want deesdae speel almal met vuur.