Die oomblik toe ek ses weke gelede besef my handsak is tydens ’n piekniek teen sononder op Clifton se Vierde Strand gesteel, was my eerste gedagtes nie aan die koste daarvan om my grimeersak, motorsleutels of pragtige leerbeursie te vervang wat my lewensmaat jare gelede vir my gekoop het nie of hartseer oor die onvervangbare handsak wat ek onlangs in Brasilië gekoop het nie, maar die beslommermis om my ID-boek, bankkaarte en rybewys te vervang.
Ek het dit al twee keer tevore gedoen en nog nie geleer om nie my hele lewe met my saam te dra of om meer veiligheidsbewus te wees nie. Daarom het ek soort van ’n intieme verhouding met die burokrasie.
Ál vraag was: Watter beampte sou my hierdie keer die meeste opdraande gee?
Dit blyk toe dis die hele spul van hulle.
Eers is ek bank toe om my debiet- en kredietkaarte te vervang. Hulle kan nie vir my ’n nuwe debietkaart gee sonder bewys van identiteit nie. Wat ek natuurlik nie kan lewer nie, want alles is gesteel. Jy moet eers ’n tydelike ID of rybewys kry, sê die vrou. Die punt is, antwoord ek, ek kan nie nuwe idenditeitsfoto’s kry sonder kontant nie. Lang storie kort: Ek kry toe ’n nuwe bankkaart.
Ek sit af verkeersdepartement toe. Eindelik is ek voor in die tou. Mnr. A sê hy kan nie vir my ’n tydelike rybewys gee sonder ’n saaknommer van die polisie nie. (Ek het al voorheen hierdie allerbelangrike dokumentjie sonder ’n saaknommer vervang, maar vandag het ek nie ’n kat se kans nie.)
Reg, dan is dit eers polisiekantoor toe.
Toe die geklets agter die toonbank eindelik ophou en iemand aan my versoek aandag gee, word daar vir my gesê ek moet vyf dae wag vir ’n saaknommer – jy weet, daardie nuttelose brokkie inligting wat jy gewoonlik dadelik kry wanneer jy ’n misdaad aanmeld, al gaan geen polisiebeampte dit ooit gebruik om die ou te probeer vastrek wat jou handsak gesteel het nie.
My protes val op dowe ore.
As ek vandag nog ’n saaknommer wil hê, moet ek 2 km verder met die straat af na die polisiekantoor in Kampsbaai gaan waar die misdaad gepleeg is.
Twee ure later en gewapen met die relevante nommer is ek terug in die tou by Galgeheuwel (die verkeersdepartement). Mnr. A is besig, maar wanneer mnr. B hoor ek is terug met die saaknommer, sê hy : “O nee, ons het nie die saaknommer nodig nie, ons het die beëdigde verklaring nodig.”
Met stygende bloeddruk probeer ek verduidelik die polisie het vanselfsprekend die beëdigde verklaring geliasseer vir ingeval iemand ooit die tyd of lus het om die ou op te spoor wat my sak gesteel het.
“Wel, dan moet jy vir mnr. A wag,” sê mnr. B min gepla.
Terug in die tou.
Dertig minute later oorhandig ek vir mnr. A die saaknommer wat hy wou gehad het. Hy stem nou met mnr. B saam: “Nee, ek het die beëdigde verklaring nodig.”
Liewe aarde!
“Wel,” antwoord ek in my hoflikste stem, “daar is NIE vir my gesê jy het ’n beëdigde verklaring nodig nie, ek het nog nooit voorheen ’n beëdigde verklaring of ’n saaknommer nodig gehad om vir ’n nuwe rybewys aansoek te doen nie en ek verlaat NIE hierdie tou sonder ’n tydelike rybewys nie. Ek ken mense wat onlangs dieselfde drama deurgemaak het om ’n rybewys te vervang en hulle hoef nie ’n saaknommer of ’n beëdigde verklaring te gehad het nie. So, hoe gaan ons dit oplos?”
“Hier rond maak die bestuur die reëls,” antwoord mnr. A skouerophalend. “Kan ek dan asseblief met die bestuur praat?” vra ek.
Twintig minute later is mnr. A terug, stempel die nodige dokumente en stuur my na ’n ander tou om vir die rybewys te gaan betaal wat die bestuur besluit het ek maar mag kry.
Goed, vort na Binnelandse Sake.
Drie uur later, nadat ek lang gesprekke gevoer het met ewe gefrustreerde klante en die ouens wat buite die kantore penne verkoop omdat Binnelandse Sake nie kan voorbly om penne te vervang wat daar gesteel word nie, het ek ’n tydelike ID-dokument.
Ek wil amper die kakkerlakke groet wat by Binnelandse Sake op die lessenaars rondloop en wat ek die voorreg gehad het om die grootste deel van die middag te bestudeer.
Ses weke later is ek terug in dieselfde toue om die nuwe dokumente te gaan afhaal. Verkeersdepartement: vyf minute. Binnelandse Sake: 15 minute.
My lewe is weer op koers. Kan iemand nou net vir my sê hoe ek my Wêreldbeker-sokkerkaartjies kan gaan afhaal sonder die kredietkaart waarmee ek dit gekoop het? Burokrasie, hier kom ek weer...