Nou die dag maak ek ‘n update op my Facebook-blad: Niks met ‘n te is goed behalwe te voet, te perd of tevrede nie. En dit laat my gedagtes toe sommer op loop gaan: het ek al ‘n te-storie geskryf?
Wat is ‘n Huisgenoot-storie ook dan nou sonder ‘n te. . .
A-a-a-h, maar natuurlik het ek. Die katvrou van Caledon in 2007.
Die tannie was regtigwaar dierbaar, ‘n welmenende mens met ‘n goeie hart. Maar daar in Caledon woed toe ‘n storm en ‘n half om haar kop en dit oor die spul rondloperkatte op haar jaart.
Destyds was hulle glo ‘n hele 160, volgens die plaaslike Dieresorg. Die tannie is toe in die hof skuldig bevind aan ‘n oortreding van ‘n munisipale ordonnasie wat sê: net vier katte op ‘n werf.
Hier in die Kaap het ons die koerantstories fyn dopgehou en nie lank nie of ek en fotograaf Martin de Kock sit af Overberg toe. Dit kan tog seker nie só erg wees nie, wie op aarde sukkel met 160 katte op hul jaart, mos pure malligheid.
Maar daar gekom was dit soos die Ingelse sou sê, no jokes. Inderdaad katkenades op sy beste.
Hulle was oral... katte voor en agter jou, katte op die rusbank (of dit wat daarvan oorgebly het), katte in bokse, op die dak, in die tuin, katte op die kombuiskaste.
Selfs ‘n snorkende wit en swarte in ‘n vensterbank. Regtig, hy’t gesnork!
Al vir meer as twintig jaar sorg die kat-nooi vir die hele Caledon se rondloperkatte –seker ook dié wat ryloop na die Overbergse dorpie, het ek nog heimlik gedink toe ek die storie so staan en dophou. Dit was baaaaie katte op een jaart, amper soos iets uit ‘n riller.
Die bure se stories was heel vermaaklik – nuwe gesiggies elke keer uit die bloute, onthou ek buurman oom Bossie Bosman se gekla oor die aantelery wat glo iets verskrikliks is. ``Dit stink so, almal hier straataf moet Jeyes Fluid om hul huise gooi, weet jy hoeveel katte is daar?’’ het oom Bossie nog ontevrede gebrom. Die Jeyes-stukkie het ons laat giggel.
Ek wou regtig vir die tannie in die bresse tree: ``Nee, ek sien die katte, oom, maar die tannie bedoel seker. . .
Die res van daai sin het die oom nooit gehoor nie.
``Jy skrik jou morsdood as hulle op die dak spring,’’ het hy ingetjip en verder iets gemompel van agt keer in die nag wakker skrik van die geraas. Toe verstaan ek wat hy bedoel, daai stukkie het my sommer aan my pa laat dink.
Dié het ook mos al sy eie katastrofes by my ouerhuis op Oudtshoorn beleef.
Boonop het die storie ál erger geraak nadat ons waghond Bullet die emmer geskop het – toé neem daai rondloperkatte behoorlik oor, boeta.
En snags het hulle geskrou soos regte mense, dan het my pa met ‘n kettie opgewip en met ekstra groot tree buitentoe gestap. Maar hy het nooit werklik ‘n kat met daai kettie geskiet of beseer of so iets nie, net so gemik na hulle of in ‘n ander rigting geskiet sodat hulle kon verkas en hy en my ma in vrede kon verder slaap.
Nou wonder ek hoekom oom Bossie nooit aan ‘n kettie gedink het nie, ook maar goed so, dalk sou hy regtig geskiet het.
``Jy kan sien en ruik hier woon katte,’’ het die tannie nog so ewe destyds laat hoor, terwyl sy ‘n katjie staan en streel. Sy was reg, jou neus het nie ‘n kat se kans gestaan nie. Maar tog as ek nou terugdink, wil my hart breek vir haar: ``Kom glimlag vir die kamera,’’ het sy so mooi gesê en die strepieskat weer styf teen haar vasgedruk toe ons kiekies neem.
Ek wonder vandag wat van al haar kat-kinders geword het en of oom Bossie al rustiger slaap. En dan wonder ek of die oom se Jeyes Fluid nou langer hou.
Shym, die tannie was maar net lief vir haar ou diertjies. . .dalk net TE lief.
Volg Huisgenoot op Twitter.