Huisgenoot se lesers hou van bak; dit het ek nou maar net weer eens besef toe ons in die uitgawe van 22 Julie ’n uittreksel uit ons nuutste boek, Wenresepte Bakboek, publiseer.
Byna oor elk van daardie resepte het ek die een of ander navraag gehad. Opwindend!
Die tydskrif is skaars op straat of ’n tannie hier uit die Kaap bel my. Sy is kwaad.
Sy’s nou lus vir ietsie soets en die verglansde lemoenskywe lyk vir haar so lekker. Sy maak dit, maar nou, sê sy, nadat sy sorgvuldig die resep gevolg het, sit sy met tameletjie. Ek luister geduldig, weet mos ook, suikerkokery is nie ’n grap nie.
Ek probeer verduidelik dat die kooktyd net ’n riglyn is, want daar’s so baie dinge wat gaan beïnvloed hoe lank jy moet kook oftewel dan later laat prut (en toe wonder ek sommer ook so hier in my binneste of mense wel weet dat prut stadig kook beteken en beginne nou al klaar twyfel of die stoofplaat toe wel hier laer gedraai is). Want hoe vinniger dit kook (op hoë hitte), hoe gouer is dit reg en hoe langer jy dan aanhou kook, gaan jy eers ’n dik stroop, dan tameletjie en veel later met harde karamel sit, alles met dieselfde resep. En diebeste van alles, as daai suikerstroop nou eers beginne karamelliseer, gebeur dinge mos sommer so binne sekondes.
Die eindproduk hang van jou, die maker, af; dis mos suikerkook se storie. Maar, net om my gewete te sus, gaan maak ek die stropie aan en pak die lemoenskywe sorgvuldig in, laat opkook vir 5 minute, draai die plaat af na 2 sodat die stropie net-net lekker prut en stel die horlosie.
Ná 20 minute, waar die tannie nou al met tameletjie gesit het, begin my lemoenskywe eers effe blinklyf kry. Ek laat prut nog 5 minute en toe lyk hulle vir my reg en ek skep die helfte uit. Los die ander helfte en laat prut verder om te sien wat gebeur.
En toe skielik, hier by ’n halfuur se kook, begin dinge sommer woes te borrel daar in die pot, en ek weet – hier kom tameletjie se ding nou. So ek skep uit en giet die stroop uit, wetende dat daardie stropie as hy eers gaan koud word het, lekker taai gaan wees (wenk: roer ’n bietjie water by en hy’s weer doenbaar). Ek bel die tannie en verduidelik weer, en ná ’n halfuur se lekker gesels sê ons koebaai. Groot vriende.
Ook sommer dieselfde dag kry ek ’n e-pos, gerig via ons brieweblad aan die redakteur, kort en bondig: “There is a mistake with the blueberry tart recipe published in the 22 July issue # 189. PS Can you let me know how much flour to add to the butter mixture please.’’
As ek mos nou nie daardie resep al ’n hele paar keer weer gemaak het vir demonstrasies nie, sou my hart nou net hier uit my keel gespring het van skrik. Maar ek bly kalm, skryf terug: ‘‘It’s correct, there is no flour in the tartlets – the ground nuts stand in for the flour . . .” Sy skryf terug: ‘‘I tried it without the flour and the shells were crumbly . . . Should I grind the nuts to a fine powder?’’
Toe weet ek, ek moet in detail verduidelik hier (die resep sê haselneute, gerooster en FYN gemaak). Ek vat dit stap vir stap, verduidelik ook dat die haselneute nou ook nie te lank gemaal moet word nie, want dan word dit ’n pasta, die hele storie. Sy skryf terug: ‘‘Fantastic. By the way . . . they are delicious and we really enjoyed them very much.
Well done on all your lovely recipes . . . I have most of your books.’’ Nog ’n pel by.
En toe’s daar nog twee lesers wat wil weet of die madeirakoek dan nie bakpoeier in moet kry nie. Die dame wat bel, sê hare het nie reg uitgekom nie.
Ek verduidelik weer, ’n regte egte madeirakoek kry nie bakpoeier in nie, die eiers moet maar al die ryswerk doen – en jy moet goed klits elke keer om te sorg dat jy genoegsaam lug ingeklits het en onthou, dis ’n swaar koek, nie lig en hooggerys nie.
Joey Nel wil via e-pos weet of dié koek iets soortgelyks is as ‘‘slapkoek’’ waarmee hulle grootgeword het. Ek ken nie slapkoek nie en sy stuur vir my die resep, vertel ook dat hulle intussen Mosselbaai toe verhuis het en daar is dit nou elke keer ’n flop, terwyl haar dogter wat in Richardsbaai woon, dit altyd baie suksesvol bak.
Wys jou net, hoogte bo seespieël speel net so ’n groot rol as dit by bak kom . . . en so kan ’n mens aanhou en aanhou, daar’s so baie dinge wat ’n invloed kan hê; dis nie sommer altyd net die resep se skuld nie.
Ek’t vanoggend weer met Joey oor die telefoon gepraat en haar slapkoek sal ek uitprobeer tot ons dit regkry – ’n spanpoging.
Intussen word my kookvriendekring net groter en groter. Lekker!