Blogger:

Huisgenoot

Afrika-spanne en die wêreldbeker

Dit lyk vir my al meer mense wat nog nooit sokkeraanhangers is nie, kry nou sokkerkoors. En dis goed so, want daar is byna nog net vier oor voor die groot gebeurtenis hier op ons voorstoep.

Aanvanklik toe ek verlede jaar in die eerste rondte aansoek gedoen het vir Wêreldbeker-kaartjies, was ek die enigste in ons kantoor. Maar nou met die laaste trekking het al meer van my kollegas ook ingeskryf en daar is groot opgewondenheid elke keer wanneer ons hoor nog iemand se kaartjies is uiteindelik goedgekeur.

Natuurlik het almal ook die keer met groter aandag na ons kontinent se Afrika Nasiesbeker gekyk, selfs al het Bafana Bafana dit nie gemaak tot daar nie. En die dag toe Egipte as konings uit die stryd tree, het klomp mense laat hoor hulle glo die Faraos gaan die Wêreldbeker hier op Afrika-bodem wen.

Wel, hier is die ding, Egipte speel nie eens in die Wêreldbeker nie.

Hulle is miskien nou al drie keer agtereenvolgend die Afrika-kampioene. En boonop het hulle geskitter in verlede jaar se Konfederasiebeker toe hulle die Wêreldkampioene Italië met 1-0 geklop het en boonop rakelings met 4-3 teen die magtige Brasiliane verloor het.

Maar ongelukkig het dit alles niks te doen met die Wêreldbeker nie en om daarvoor te kon kwalifiseer, moes hulle ‘n heel ander toernooi gewen het.

In 2008 en 2009 het al die Afrika-lande vir agtien maande lank in vyf groepe gespook om een van die vyf gelukkiges te wees wat dit tot hier maak. Bafana Bafana het sowaar in die eerste rondte al uitgeval, maar gelukkig het ons ‘n vrypas gekry vir die Wêreldbeker.

Egipte was ‘n gunsteling in hul groep. En alles het goed verloop totdat hulle op die einde gelykop geëindig het met Algerië. In die groepsfase het hulle immers 2-0 teen Algerië gewen.

Maar toe, net ‘n paar dae na dié oorwinning, kom die Algeriers terug met hernude moed en klop sowaar die Faraos met een doel teenoor nul.

En net daar, is Egipte se kans in ‘n oogwink verby. Hulle is miskien ondebatteerbaar die beste sokkerspan in Afrika en boonop tiende op die wêreldranglys (teenoor Algerië se 31ste en Suid-Afrika lê laag op 81), maar soos met meeste ander sporte moes hulle gewen het toe dit saak gemaak het, en hulle het nie. 

- Alet van Zyl (Joernalis, Huisgenoot)


Lucia Swart-Walters en Alet van Zyl vertel weekliks hoe hulle begin geesdriftig raak oor die 2010 sokker wêreldbeker.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (0)


Jou naam: Jou e-posadres:

Kopiereg © 2010 Media24. Alle regte voorbehou. Built by Blueworld Communities