Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 min.

Staan: 15 min.

Gaarmaak: 15 min.

400 g steak, in dun skywe gesny

60 ml (¼ k) dik sojasous

20 g babawortels

300 g broccoli

15 ml (1 e) olie

1 rooi ui, in dun skywe gesny

1 rooi brandrissie, in skywe gesny

2 knoffelhuisies, in dun skywe gesny

60 ml (¼ k) braaisous

’n hand vol vars koljander, gekap

  1. Plaas die steaks in ’n bak en meng met 30 ml (2 e) van die sojasous. Laat staan 15 min.
  2. Bring ’n pan water tot kookpunt, voeg die wortels en broccoli by en laat prut 5 min. tot net sag. Dreineer en rangskik die groentes in ’n opdienbak. Hou warm.
  3. Plaas ’n groot braaipan of wok oor hoë hitte, voeg die olie by en verhit tot dit rook.
  4. Roerbraai die beesvleis in twee sarsies 3 min. of tot net gaar en sit dan eenkant.
  5. Voeg nog ’n bietjie olie in die pan indien nodig en roerbraai die ui en brandrissie 2 min. of tot die ui begin versag.
  6. Strooi die knoffel oor en meng vinnig.
  7. Sit die steak terug in die pan saam met die oorblywende 30 ml (2 e) sojasous, braaisous en 30 ml (2 e) water, en braai dan nog ’n minuut tot deurwarm.
  8. Skep die inhoud van die pan, asook die pansappe, oor die broccoli, strooi die koljander oor en sit dadelik voor.

Deur Hope Malau