Frittata, kaaskoek in flessies, konfyttertjies, roomkaas-doopsouse . . . lek jou lippe af vir die piekniekfees wat ons kosblogger Mari-Louis Guy vir haar hartsvriendinne beplan. En sy gee boonop eksemplare van die nuutste Kook & Geniet weg!

Kalm terwyl dit weergalm

PIEKNIEK VIR MY PELLE

Februarie en Maart is aljaar ’n woelige tyd vir my en broer Callie, want dis wanneer oorsese produksiemaatskappye die graagste in die Kaap advertensies kom skiet.

Om op film te probeer uitvoering gee aan die soms eksentrieke idees en verwagtinge van malkop- kreatiewe mense verg dikwels dat ek en Callie ’n kopskuif middelaarde toe moet maak..

Dan, ná weke van vroeë oggende en laat aande, is daar weer tyd om stil te staan en asem te haal. Kort daarna natuurlik gevolg deur skuldgevoelens oor hoe die kinders se kosblikke en jou vriendskappe te midde van die chaos afgeskeep is.

Om vir dié afwesigheid te vergoed, hou ek die naweek ’n groot piekniek vir almal in my urban familie in die somer se laaste sonstrale.

My urban familie is al die vriendinne wat help met die grootmaak van my kinders, wat my help lawe ná ’n lang dag en pleisters op emosionele sere plak.

Mari-Louis en haar vriendinne en hul kinders vir wie sy piekniek gaan ou

Van links is on Winnie, Petro, ek en Shelley, en ons kroos.

Daar’s Winnie, my skoonsus wat my kinders so liefhet soos haar eie en op haar matrone-styl help om die lewe te reël.

En Petro Mostert, wat pas weer die Cape Epic-fietsren voltooi het en wat my bergop motiveer. My rasieleier.

Lindie, wat ja sê vir elke uitdaging in die lewe. Haar aweregse en geennonsens- maar vars uitkyk sorg vir die beste kuiers.

Shelley, wie se werk as stilis my eie lewe weerspieël. Sy het ook die stilering gedoen vir die foto hierbo. Ons het onlangs saam deelgeneem aan ’n pretloop van 7 km, maar toe die roete ons neem verby Haas, ons albei se gunsteling-koffiekroeg, moes ons maar eers stop en inloer. Christel skitter dikwels in haar afwesigheid en is al weer met vakansie – die opsysit van gehaltetyd is die les wat ek vanjaar by haar gaan leer. Ek waardeer julle klomp geweldig, veral omdat almal amper net so lief is vir die ander se kinders as hul eie. Ons het met dié spulletjie ’n lang maar gesellige pad matriek toe. Ek sal immers reeds ’n ronde 50 wees wanneer Sophia, my jongste, graad 1 tref . . . Behoede ons.

THERESA DE VRIES, DEEG-KONINGIN

Theresa de Vries

’n Mens weet nooit waar en wanneer jy vriende ontmoet wat jy net weet vir altyd met jou deur die lewe sal gaan nie.

So was dit met my en Theresa de Vries. Ek het haar op die stel van Kokkedoor seisoen 1 ontmoet waar sy een van die finalis-onthoukokke was, en dadelik by haar plattelandse humorsin aanklank gevind. Haar oproepe, met beskrywings soos “selle bobbejaan, net langer ketting”, laat my gereeld diep uit die maag lag. Sy is natuurlik die tertdeeg-koningin en ek het my ’n kuier vanjaar op haar plaas belowe vir ’n les oor hoe om die land se beste melktert te bak.

Sy het saam met Hannelie van Niekerk ’n heerlike resepteboek uitgegee, Boesmanlandse Hunkerkos.

Ek het veral die vleisresepte soos winddroogribbetjie en knoplyfpastei geniet. Natuurlik ook die soetkant van dinge en haar lekker beskrywings en name soos Depressiepoeding, Kaiingpoeding, Bont Johnnie en Biestert.

Sy het ’ pragtige huldeblyk aan haar ma:

Sy het ons nie geleer nie.

Sy het ons nie gewys nie.

Sy het ons geleer en gewys deur te doen – Ons moet maar net kyk en ook doen. Kook voor julle kinders, maak hulle deel van die proses. Ons het so ’n ryk koskultuur en ek voel sterk daaroor dat ons hierdie kennis moet oordra. WEN! Theresa gee twee eksemplare van haar kookboek aan lesers present. SMS THERESA,  jou naam, adres en die antwoord op ons vraag na 34922 om vir die boek in aanmerking te kom. Die sluitingstyd is 17:00 op 22 April. Elke SMS kos R1,50 en jy kan soveel keer SMS as wat jy wil. Die borg is verantwoordelik vir die aflewering van die produk. Vraag Aan watter TV-kookprogram het Theresa deelgeneem? Om Theresa oor demonstrasies te nader of haar boek te bestel, kan julle haar op Facebook gaan soek of ’n e-pos stuur na boskop@hantam.co.za. Klik hier of rol af om Teresa se Bont Johnnie-poedingresep te sien

PIEKNIEKRESEPTE

GROENTE-FRITTATA

Mari-Louis se groente-frittata

6 aartappels in die skil, gekook

2 k (500 ml) uitgedopte ertjies

8-10 kersietamaties

6 eiers

1 k (250 ml) room

½ k (125 ml) melk

sout en peper na smaak

1 bakkie mikrokruie

Voorverhit die oond tot 180 ºC en smeer ’n ronde bakplaat van 30 cm met olyfolie.

1 Sny die aartappels in dik ringe en rangskik op die bakplaat. Strooi die ertjies en tamaties bo-oor.

2 Klop die eiers, room, melk, sout en peper saam en giet oor die aartappels.

3 Bak 15-20 minute tot geset en goudbruin. Versier met die mikrokruie en sit voor.

LEPELSTEELTJIES

(ook wildebeesogies genoem)

Mari-Louis Guy se lepelsteeltjeis of wildebeesogies

250 g sterk, beleë cheddarkaas

2 k (500 ml of 280 g) koekmeel

1 t (5 ml) bakpoeier

knippie sout

250 g koue botter, gerasper

gladde appelkooskonfyt, baie koud, verkieslik oornag in die yskas geplaas

1 Rasper die kaas baie fyn en plaas in die yskas tot benodig.

2 Sif die meel, bakpoeier en sout saam in die mengbak van ’n elektriese menger. Voeg die botter by en meng of pols dit tot dit soos growwe broodkrummels lyk.

3 Voeg die kaas by en meng tot die deeg gebind het. Bedek met kleefplastiek en plaas 20 minute in die yskas.

4 Verdeel en rol die deeg in 40-50 balletjies. Druk elke balletjie effens platter met die palm van jou hand.

Maak met die steel van ’n houtlepel ’n holtetjie in elke balletjie en vul dit met ’n skeppie konfyt.

5 Bak 10-15 minute tot goudbruin om die rande. Laat dit op ’n draadrak afkoel.

DOOPSOUSE

Doopsouse: rooi pestoroomkaas en kerrie-en-roomkaas-doopsous

KERRIE-EN-ROOMKAAS-DOOPSOUS

100 g beleë cheddarkaas, gerasper

1 ui, gekap

skeutjie (25 ml) port 2 e (30 ml) kerriepoeier 1 Plaas al bestanddele in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad. 2 Plaas in die yskas tot benodig. ROOI PESTOROOMKAAS

1 houertjie (250 g) roomkaas

3 e (75 ml) rooi pesto

1 Plaas al bestanddele in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad.

2 Plaas in die yskas tot benodig.

KAASKOEK IN FLESSE

Kaaskoek

1 houertjie (250 g) roomkaas

½ k (125 ml of 100 g) suiker

3 eiers

½ koppie (125 ml) suurroom

1 e (15 ml) vars suurlemoensap

sout na smaak

water, pas gekook

1 bakkie bloubessies

1 bakkie frambose

Voorverhit die oond tot 160 ºC.

1 Klop die roomkaas tot glad in die mengbak van ’n elektriese menger.

2 Voeg die suiker by en klop 3 minute teen mediumspoed. Stel die spoed op laag en voeg die eiers een vir een by tot goed gemeng. Skraap die kante van die mengbak ná elke eier-byvoeging af.

3 Voeg die suurroom, suurlemoensap en sout by. Klop nog 3 minute teen medium-spoed.

4 Verdeel die mengsel tussen 6 klein flesse en skep elkeen twee derdes vol. Plaas die flessies in ’n diep oondpan.

5 Giet die pas gekookte water in die oondpan sodat dit die flesse so halfpad die daarin staan. Maak die hele gedoente goed toe met foelie en sny ses klein gleufies in die foeliedeksel.

6 Bak 25 minute of tot geset. Laat afkoel en plaas oornag in die yskas.

7 Skep vars bessies bo-op die kaaskoeke en sit voor.

Wenk Die flessies kan tot 4 dae in die yskas geberg word.

En as jy nog inspirasie vir piekniekkos soek . . .

Mari-Louis se Piekniekbroodjies, waatlemoen met kaas

THERESA SE BONT JOHNNIE-RESEP

Hierdie kleurryke poeding sal net so lekker op ’n piekniek wees. Theresa vertel sy maak die  poeding al vandat sy getroud is. “Waar ek aan die resep gekom het, sal niemand weet nie. Dit ook lekker vir basaars, want jy kan dit vermeerder soos jy moet.

3 pakkies jellie van jou keuse, elk in ’n ander kleur (maak rooi ’n kleur want dit laat die poeding baie vrolik lyk)

1 blikkie kondensmelk

1 kondensmelkblikkie vol melk

2 t (10 ml) gelatien

100 ml water

1 Maak elke pakkie jellie volgens die aanwysings in ’n aparte houer aan. Laat in die yskas stol.

2 Sny die gestolde jellie in blokkies en pak 1 laag van al drie kleure in ’n bak.

3 Maak die kondensmelk met die melk aan.

4 Smelt die gelatien in die water volgens die aanwysings op die gelatien-pakkie.

5 Meng die melk- en gelatienmengsel. Giet ’n lagie oor die jellie sodat die melkmengsel tussen die blokkies inloop.

6 Pak nog jellieblokkies bo-op en giet nog melkmengsel in. Herhaal die lae tot al die bestanddele opgebruik is.

7 Plaas in die yskas.

- Mari-Louis

Al die kosfoto’s: Melody Deas,  Hirt & Carter

 

Mari-Louis Guy is ’n vryskut-kosstilis en kosboekskrywer wat saam met haar broer, Callie Maritz, onder die naam Cakebread werk. Deel jou ervarings en resepte met haar by cakebreadct@gmail.com of vind haar op Facebook. Gaan loer gerus ook na voorbeelde van haar en Callie se werk vir Checkers: kaas-en-aartappelgebak en kaas-en-kruie-omelet.