Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 min

Gaarmaak: 35 min

VLA

250 ml (1 k) 2 persent-melk

3 eiergele

60 ml (¼ k) xylitol-versoeter

15 ml (1 e) verpoeierde gelatien

5 ml (1 t) vanielje-ekstrak

DEEG

3 velle filodeeg

kooksproei

KERSIES

125 ml (½ k) xylitol-versoeter

15 ml (1 e) brandewyn (opsioneel)

1 blik (400 g) ontpitte suur kersies

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n reghoekige losboomtertpan van 11 x 34 cm met kooksproei.
  2. Vla: Verhit die melk in ’n kastrol oor matige hitte tot net onder kookpunt. Verwyder van die hitte.
  3. Klits die eiergele en versoeter in ’n bak tot goed gemeng.
  4. Verspons die gelatien ’n paar minute in ’n ander bak in ’n bietjie water.
  5. Klits die warm melk geleidelik by die eiergeelmengsel in en gooi die vla dan terug in die kastrol oor matig-lae hitte.
  6. Skep ’n bietjie van die vla in die gelatien en voeg dit dan by die oorblywende vla in die kastrol.
  7. Roer liggies maar aanhoudend met ’n houtlepel terwyl jy die bodem en die hoeke bereik 4 minute of tot die mengsel dik genoeg is om die agterkant van die lepel te bedek.
  8. Verwyder van die hitte en giet deur ’n fyn sif in ’n bak. Roer die vanielje-ekstrak in. Laat 15 minute afkoel terwyl jy af en toe roer.
  9. Deeg: Sny die deeg sodat dit in die bakpan pas (met ’n bietjie wat oorhang). Spuit een vel met kooksproei, sit nog ’n vel bo-op en sproei, en sit dan die laaste vel bo-op.
  10. Voer die bakpan met die deeg uit en giet die afgekoelde vla oor die bodem.
  11. Bak 12 minute of tot die deeg  gaar is.
  12. Kersies: Roer die versoeter, brandewyn (indien gebruik) en kersievloeistof in ’n pan oor lae hitte om die versoeter op te los en kook dan 3 minute op hoog.
  13. Wanneer gereed vir voorsit, bedek die tert met die kersies en bedruip met die stroop.

Deur Hope Malau

Foto: Jacques Stander