Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 min.

Verkoel: 20 min.

Gaarmaak: 30 min.

400 g varkworsies

6 spekvleisrepe

1 kop blomkool

100 ml olyfolie

sout en peper

30 ml (2 e) Dijon-mosterd

30 ml (2 e) rooiwynasyn

’n hand vol vars koljander

Voorverhit die oond tot 200 °C.

  1. Haal die worsvleis uit die derm en rol in happiegrootte-frikkadelle. Rangskik op ’n bord en verkoel 20 min. in die yskas om ferm te word.
  2. Rangskik die spekvleis op ’n bakplaat en rooster 8 min. in die oond tot bros. Laat koel effens af op papierhanddoeke en kap grof.
  3. Bring ’n pot gesoute water tot kookpunt. Voeg die blomkool by en kook tot sag. Dreineer en hou 30 ml (2 e) van die kookvloeistof eenkant. Verwerk die blomkool in ’n voedselverwerker tot ’n puree. Voeg 15 ml (1 e) van die olie by saam met die vloeistof wat jy eenkant gehou het en verwerk weer. Geur met die sout en peper.
  4. Verhit 15 ml (1 e) van die olie in ’n braaipan oor matige hitte en braai die frikkadelle terwyl jy dit gereeld draai 8 min. of tot goudkleurig en deurgaar. Sit eenkant en hou warm.
  5. Klits die mosterd, asyn en oorblywende olie in ’n bak en geur met die sout en peper. Voeg die koljander en spekvleis by en meng liggies.
  6. Skep die fyn blomkool op ’n bord en bedek met die frikkadelle en sous.

Deur Hope Malau

Foto: Jacques Stander