Deelkos

Plankie-steak

Op dié deelmanier kan jy nog maar steak eet, want dit gaan jou nie ’n plaas kos nie. So werk dit Elke paartjie bring twee van hul gunsteling-steaks. Dit kan enige soort wees, net nie filet nie. Maak ’n groot houer kole en braai een tot twee steaks, genoeg vir ’n proesel vir elkeen om die tafel. Sny die steak in stukke en stuur dit op ’n plankie om die tafel sodat elkeen homself help. Elkeen geniet dit saam met sy gunsteling-doopsous, wat in bakkies op die tafel rondstaan saam met ’n slaai of twee. Kry ook ’n goeie klompie slaptjips gereed om daarmee saam te eet. Nou is dit tyd vir ontspan, gesels en wyn drink voor jy die volgende ronde steak braai, omstuur en nog tjips gaarmaak. Steakkeuses Lende, kruisskyf, T-been, prima rib, riboogsteak en bolendeskyf (Porterhouse). Sowat 250-300 g elk en 2,5-3 cm dik gesaag. Dit sorg dat die steak ’n bros buitelagie en sappige binneste het. Te dun steaks kan vinnig droog braai.

Hoe maak jy die volmaakte steak gaar?

Sorg dat die vleis by kamertemperatuur is, dan sal dit eenvormig en egalig gaar word en ook sagter wees. Maak klein snytjies aan die vetkant om te keer dat dit omkrul tydens gaarmaak. Sorg dat die braairooster goed warm is. Smeer die vleis en nie die rooster nie, met olie. Die kole moet ook gloeiend warm wees, want die steaks moet vinnig gebraai word – hoe robuuster die vleis, hoe vinniger moet dit gebraai word sodat die buitekant kan seël en die sappe behou word. Plaas die rooster 50 mm bo die kole. (Groter snitte soos Porterhouse word hoër bo die kole gebraai.) Blaas en waai die kole gedurig om dit warm te hou. Skroei dadelik die skywe deur dit minstens 1 minuut aan elke kant te braai. Moenie die steaks omdraai voor dit ’n bruin lagie buite-om gevorm het nie, anders sal dit aan die rooster of pan vassit. Braai dit dan tot die verlangde graad van gaarheid. (Sien die tabel regs.) Gebruik ’n kombuistang om die vleis te draai, nie ’n vurk nie; dit prik die vleis en die vleissappe loop uit. Bedruip die vleis gereeld met braaisous om uitdroging deur die baie warm vuur te voorkom. Laat die steaks ’n paar minute rus sodat die sappe kan stol, maar dit moenie te lank staan nie. Die res van die ete moet gereed wees sodat almal kan eet sodra die vleis klaar gebraai is.

Hoe lank?

Die meeste mense verkies lig- tot mediumgaar vleis. Alles is in orde, maar doodgebraaide steak is taboe! Gaarmaaktye is altyd ’n kwessie. Hier is ’n nuttige tabel. Onthou, die getalle dui die totale gaarmaaktyd aan.

BRAAIGIDS2,5 cm             3 cm    4cm
Liggaar4-5 minute5-6 minute6-8 minute
Lig- tot mediumgaar5-5½ minute7-8 minute8-9 minute
Mediumgaar6-7 minute8-10 minute9-11 minute
Medium- tot-goed gaar7-8 minute10-11 minute11-12 minute