Die groentesmeer sal tot ’n week lank goed in die yskas hou. Maak 1,5 liter (25 porsies van 60 ml elk). Bereiding: 15 minute, koste: R2,41 per porsie en verpakking: plastiektoebroodjiehouer. Bestanddele: 6 wortels, skoongeskrop en in growwe stukke gesny; 2 groen soetrissies, ontkern en in stukke gesny; 1 komkommer, in stukke gesny; 3 uie, geskil en in stukke gesny; 1 rooi soetrissie, ontkern en in stukke gesny; 500 ml (2 k) wit druiwe-asyn (nie spiritus-asyn); 500 ml (2 k) laevet-mayonnaise (Nola); 250 ml (1 k) natuurlilke jogurt; 15 ml (1e) suiker; sout en peper na smaak.

Plaas al die groente in ’n voedselverwerker en verwerk tot taamlik fyn. Skep in ’n groot bak en giet genoeg asyn oor om die groente te bedek. Laat staan dit vir 4 uur in die yskas. Dreineer goed en druk enige orige asyn uit. Voeg die res van die bestanddele by en geur na smaak met sout en peper. Plaas in ’n lugdigte houer en bêre in die yskas.

Variasie: Voeg gaar hoender of tuna by die basiese groentesmeer.