Asha Maharaj, kookboekskrywer en kenner van Suid-Afrikaanse Indiese kos, tower ’n geurige fees op.

Genoeg vir 8 mense

Bereiding: 30 min

Gaarmaaktyd: 20 min

SAMOESA-ROLLETJIES

Hierdie samoesas se vorm verskil van die gewone en baie gewilde driehoekvormige Indiese peuselhappie. Dit is veel makliker om dit met filodeeg en in ’n rolletjie te maak. Dit word met ’n mengsel van sampioenskyfies, kaas en mielies gevul. Sit dit voor as peuselhappie saam met blatjang.

30 ml (2 e) olie; 5 ml (1 t) komynsaad; 10 ml (2 t) fyn gekapte brandrissies; 5 ml (1 t) fyngedrukte knoffel; 500 g mengsel van sampioene (portabello, wit knopie en portabellini), in skyfies gesny; 250 ml (1 k) pitmielies; 1 bos salotte, fyn gekap;125 ml (½ k) gekapte ui; 2 ml (½ t) borrie; 5 ml (1 t) garam masala; 125 ml (½ k) gekapte koljander- en kruisementblare; sout na smaak; 250 ml (1 k) gerasperde cheddar- of ricottakaas; 1 rol filodeeg, ontvries

gesmelte botter soos benodig

deegpasta gemaak van meel en water vir toeplak

olie vir diepbraai

Verhit die olie in ’n kastrol. Voeg die komyn, brandrissies en knoffel by en roer ’n paar sekondes.

Roer die sampioene en pitmielies in. Verhit onbedek vir 5 minute.

Voeg die salotte, ui, borrie en masala by. Roerbraai vinnig tot die meeste vog verdamp het. Verwyder van die hitte.

Voeg die kruie en sout by. Laat tot kamertemperatuur afkoel. Roer die kaas in.

Sny die velle filodeeg in die helfte, en gebruik 3 lae deeg per rolletjie. Borsel elke vel met botter.

Skep ’n opgehoopte teelepel vulsel al langs die een kant van die deeg.

Rol op en vou die kante in terwyl jy rol.

Plak die ent met deegpasta vas.

Diepbraai ’n paar op ’n slag in verhitte olie tot net bros. Dreineer op handdoekpapier.

Sit louwarm of koud voor.