As jy soggens tyd het, berei hierdie rolletjies voor sodat jy hulle die aand vinnig kan gaarmaak.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 20 min

Gaarmaak: 15 min

1 kg bereide deeg

250 ml (1 k) soetbrandrissiesous

375 ml (1½ k) gerasperde mozzarellakaas

5 hoenderborsies, gaargemaak en versnipper

3 sprietuie, gekap

1 eier, liggies geklits saam met 15 ml (1 e) water

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ’n bakplaat en sit eenkant.
  2. Verdeel die deeg in twee en rol in een stuk uit op ’n skoon oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Sny die deeg tot 25 x 40 cm en smeer die helfte van die soetbrandrissiesous egalig daaroor. Strooi die helfte van die kaas, hoender en sprietui oor. Rol van ’n kort kant af op. Herhaal met die oorblywende deeg en vulselbestanddele.
  3. Sny die rolletjies in lengtes van 4 cm met ’n getande mes. Verplaas na die bakplaat en plaas ’n kwartier of tot die deeg se volume verdubbel het op ’n warm plek.
  4. Verf met die eiermengsel en bak ’n kwartier of tot goudkleurig.