’n Wonderlike bykos of voorgereg vir vriende of familie. Maak die perskeblatjang en hou dit tot twee weke in ’n lugdigte ouer in die koelkas.

Bereiding: 25 min.

Gaarmaak: 55 min.

Lewer 18

300 g broccoli, in stukke gesny

200 g fyn amandel

10 ml (2 t) bakpoeier

5 ml (1 t) borrie

2,5 ml (½ t) fyn komyn

1 brandrissie, in dun skywe gesny

2 sprietuie, in fyn skywe gesny

’n hand vol koljander, grof gekap

1 eier, liggies geklits

sout en peper

olie vir diepbraai

Blatjang

15 ml (1 e) olie

2 uie

5 cm gemmer, in skywe gesny

15 ml (1 e) mosterdsaad

2,5 ml (½ t) borrie

2,5 ml (½ t) brandrissievlokkies

2,5 ml (½ t) kaneel

2,5 ml (½ t) wonderpeper

sout en peper

600 g perskes, gehalveer

100 g korente

60 ml (? k) bruinsuiker

250 ml (1 k) appelasyn

  1. Sit die broccoli in ’n kastrol met 250 ml (1 k) water en laat dit liggies prut tot deurgaar en sag. Haal die broccoli uit die water en hou die vloeistof vir later. Puree die broccoli in ’n verwerker tot heeltemal glad.
  2. Sit die fyn amandel, bakpoeier, borrie, komyn, brandrissie, sprietuie en koljander in ’n bak en meng tot net gemeng.
  3. Voeg die eier by die broccoli-puree en meng.
  4. Voeg die broccoli-puree by die amandelmengsel met 60 ml (¼ k) van die water wat jy gehou het om ’n dik beslag te maak. Geur met sout en peper.
  5. Verhit die olie in ’n diep kastrol oor matige hitte. Diepbraai lepels vol van die beslag 3 min. in die warm olie of tot liggies goudbruin en deurgaar.
  6. Haal uit die olie, dreineer op ’n pan wat met papierhanddoek uitgevoer is en geur.

  7. Blatjang: Verhit die olie in ’n pan oor matige hitte, voeg die uie by en braai tot sag. Voeg die gemmer, mosterd, borrie, brandrissie, kaneel, wonderspesery, sout en peper by.
  8. Braai 2 min. Roer die perskes, korente, suiker en asyn in, verminder die hitte, bedek die pan en kook 45 min. of tot dik.
  9. Sit eenkant sodat dit kan afkoel.

Deur Hope Malau

Foto: David Briers