Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 35 min.

Gaarmaak: 20 min.

PASTADEEG

500 ml (2 k) meel

3 eiers

5 ml (1 t) sout

15 ml (1 e) olie

SOUS

1 blik (400 g) heel kersietamaties

1 ui, gekap

30 ml (2 e) olie

45 ml (3 e) heuning

4 knoffelhuisies, gekap

30 ml (2 e) Worcestersous

2 roosmaryntakkies

sout en peper

VULSEL

300 g boerewors

30 ml (2 e) olie

  1. Pastadeeg: Gooi die meel op ’n skoon werkoppervlak uit en maak ’n holte in die middel. Breek die eiers in die holte en voeg die sout en olie by. Klits die eiers met ’n vurk en meng die meel stadig in deur dit van die kante af in te trek tot ’n deeg vorm.
  2. Knie die deeg tot glad. Voeg nog meel by as dit te klewerig is of druppels water as dit te droog is. Draai in kleefplastiek toe en sit 20 minute eenkant.
  3. Sous: Laat prut al die bestanddele 20 minute in ’n kastrol oor matige hitte of tot effens verminder.
  4. Vulsel: Druk die boereworsvleis uit die omhulsel in ’n bak uit.
  5. Verhit die olie in ’n braaipan oor matige hitte, voeg die boereworsvleis by en roer om enige klonte op te breek. Braai tot gaar.
  6. Haal die deeg uit die kleefplastiek en verdeel in vier. Rol een stuk deeg met ’n koekroller uit tot dun en lank op ’n oppervlak wat met meel bestrooi is; roteer terwyl jy rol om te keer dat die deeg vassit. Plaas hopies van die maalvleis sowat 2,5 cm uitmekaar sowat 1 cm van die een lang kant af. Vou die ander kant oor die vulsel en druk die ravioli met ’n koekiedrukker uit. Herhaal met die oorblywende deeg en worsvleis.
  7. Bring ’n pot soutwater tot kookpunt oor hoë hitte. Kook die ravioli in sarsies: Laat gly ’n paar in die kookwater in en roer liggies. Dis gaar sodra dit na die oppervlak dryf. Dreineer en giet die kersietamatiesous oor voor jy dit voorsit.