Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 20 minute

Staantyd: 1-2 dae

Gaarmaaktyd: 1 uur

1 groot wildsrugfilet (sowat 1,5 kg)

MARINADE

50 ml sojasous

80 ml (¹/³ k) olyfolie

30 ml (2 e) suurlemoensap

3 knoffelhuisies, gekap

sout en vars gemaalde swartpeper

VULSEL

50 ml botter

2 grasuie, gekap

100 g knopiesampioene, in skywe gesny

2 knoffelhuisies, fyn gekap

200 g bloukaas, gekrummel

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

10 ml (2 t) gelatien

300-500 g spekrepe

  1. Sny alle sigbare sening van die filet af en vlek dit netjies oop. Plaas dit in ’n glasbak.
  2. MARINADE Meng al die marinadebestanddele en giet dit oor die vleis. Marineer 1-2 dae in die yskas.
  3. VULSEL Verhit die botter in ’n pan en soteer die grasuie daarin tot sag. Voeg die sampioene by, verhoog die temperatuur en braai tot die vloeistof verminder het.
  4. Voeg die knoffel by en braai verder tot die sampioene begin verbruin. Skep die mengsel uit en laat afkoel.
  5. Roer die bloukaas in en geur met sout en peper.
  6. Voorverhit die oond tot 180 °C. Dreineer die vleis en klad droog met handdoekpapier. Geur met sout en peper.
  7. Sprinkel die gelatien oor die oopgevlekte vleis en smeer die vulsel oor.
  8. Rangskik die spekrepe oorvleuelend oor die vleisrol en steek met peuselstokkies of sosatiepenne vas of bind dit vas met tou.
  9. Plaas die vleis op ’n rak bo-oor ’n oondbraaipan en rooster 15 minute per 500 g plus 15 minute ekstra. Laat 15-20 minute op ’n warm plek rus voor dit gesny word.
  10. Sit die filet saam met ’n sampioensous voor.

WENKE

  • Maak wildsvleis so gaar: Laat 15-20 minute in ’n voorverhitte oond by 160 °C toe per 500 g plus nog 15-20 minute. Die vleis is gaar wanneer die vleissappe helder is. Taaier vleissnitte soos rib sal langer gaargemaak word.
  • Geur wildsvleis so: Daar is meer as genoeg geure wat maklik maats maak met wildsvleis, soos gemmer, koljander, steranys, jenewerbessies, tiemie, naeltjies, neutmuskaat, peperkorrels, wonderpeper, knoffel, lourierblare en basiliekruid.