Genoeg vir 6 mense

Voorbereiding 20 min

Totale tyd 2 uur plus 12 uur staantyd

WILDSPASTEI 

Vir dié wildspastei word eers ’n aspiek (afgekoelde gestolde mengsel) gemaak sodat dit in ’n netjiese vorm gesny kan word.

Daarom ook dat skaap- of varkpootjies bygevoeg word. Om dit nog meer spesiaal te maak, word dit toegedraai in ryspapierdeeg (dieselfde soort deeg wat vir Oosterse rolletjies gebruik word), maar filodeeg kan ook gebruik word.

WILDSVULSEL

30 ml olie

800 g nek, blad of bors van ’n wildsbok, in stukke gesaag

600 g lams- of varkpootjies, in stukke gesaag

1 groot ui, gekap

2 selderystingels, gekap

25 ml suurlemoensap

15 ml sout

5 ml vars gemaalde swartpeper

300 ml kookwater

3 lourierblare

12 peperkorrels

6 heel naeltjies

50 ml port

50 ml tamatiepasta

KORS

8 – 12 velle ryspapierdeeg

1 eiergeel

15 ml water

VULSEL 

  1. Verhit die olie in ’n groot swaarboomkastrol en braai die wilds- en lams- of varkvleis in kleiner hoeveelhede tot bruin.
  2. Voeg die ui, seldery, suurlemoensap, sout, peper en kookwater by.
  3. Bind die lourierblare, peperkorrels en naeltjies in ’n stukkie kaasdoek toe en voeg dit by die vleis.
  4. Kook stadig tot die vleis sag is; sowat 90 minute.
  5. Verwyder al die bene en die sakkie met speserye.
  6. Roer die port en tamatiepasta by en laat afkoel.
  7. Voer ’n oondpan met kleefplastiek uit en giet die mengsel in die uitgevoerde pan.
  8. Laat oornag in die yskas om te stol.
  9. Sny die wildsaspiek in netjiese driehoeke of vierkante.

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Smeer ’n bakplaat liggies.

KORS

  1. Plaas die vleisvorms op die ryspapiervelle.
  2. Smeer die deeg se rand liggies met water.
  3. Vou die rand om die vleis om heeltemal te omhul. Plaas dit op die voorbereide bakplaat.
  4. Klits die eiergeel en water en smeer dit bo-oor.
  5. Bak net tot goudbruin en deurwarm.

Sit dit voor met bruinrys, gebraaide aspersies en kweper- of koejaweljellie.

Huisgenoot, 16 Augustus 2007