Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 1-1½ uur

Christine Miggel van Vredendal het oorspronklik vir ons ’n resep vir groenboontjiebredie gestuur, maar aangesien dit nou waterblommetjietyd is, het ons dit met hierdie heerlike Kaapse lekkerny vervang.

1 kg lamskenkels, in stukke gesny

15 ml (1 e) koekmeel

15 ml (1 e) olie

2 uie, fyn gekap

sout en vars gemaalde swartpeper

200 ml vleisaftreksel

20-30 ml (4-6 t) vars suurlemoensap

6 middelslag-aartappels, geskil en in stukke gesny

500 g vars waterblommetjies

ekstra suurlemoensap

suurlemoenskil

Bedek die vleis met meel en skud die orige meel af.

Verhit die olie in ’n kastrol en braai die vleis bietjie op ’n slag tot goudbruin.

Skep die vleis uit en braai die uie tot sag en geurig.

Sit die vleis terug in die kastrol en geur met sout en swartpeper.

Gooi die vleisaftreksel en suurlemoensap by en roer tot dit gemeng is.

Sit die deksel op en laat prut sowat 30 minute.

Voeg die aartappels by en laat prut nog sowat 30 minute.

Voeg die waterblommetjies by en laat prut nog 10 tot 15 minute of tot die waterblommetjies sag en gaar, maar steeds effe bros is.

Geur dit weer met sout en swartpeper na smaak.

Sprinkel ekstra suurlemoensap en -skil oor.

Sit voor saam met rys en oondgeroosterde pampoenstukke.