Blomkool is ’n goeie plaasvervanger vir aartappels en rys as jy detoks.

Genoeg vir 4 mense

Bereidingstyd: 15-20 minute

Gaarmaaktyd: 8-10 minute

MARINADE

60 ml (¼ k) olyfolie

sap en skil van 1 suurlemoen of lemmetjie

4 knoffelhuisies, gekap

hand vol gekapte ment

sout en peper

STEAKS

4 volstruissteaks of 1 -filet

olyfolie vir braai

SALSA

375 ml (1½ k) gekapte pynappel

60 ml (¼ k) gekapte ui

125 ml (½ k) gekapte rooi soetrissie

15 ml (1 e) gekapte ment

15 ml (1 e) lemmetjiesap

15 ml (1 e) olyfolie

BLOMKOOLRYS

1-2 koppe blomkool, grof gekap in ’n voedselverwerker

groenteaftreksel vir kook

15-30 ml (1-2 e) olyfolie

sout na smaak

Verhit die oond tot 230 °C.

  1. Marinade Meng alles buiten die sout en peper en marineer die vleis sowat 1 uur daarin. Geur met die sout en peper.
  2. Steaks Verhit ’n riffelpan tot rookwarm, smeer die steaks of filet met die olie en braai dit alkant tot bruin en tot dit loskom van die pan. Plaas op ’n bakplaat en rooster sowat 5 minute tot gaar na smaak.
  3. Salsa Meng alles.
  4. Blomkoolrys Kook die blomkool in die aftreksel tot net sag, maar nog baie bros. Dreineer. Meng die olyfolie deur en geur met die sout.
  5. Sit die vleis voor met die salsa en blomkoolrys.