Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 15 minute

Weektyd: 45 minute tot 1 uur

Gaarmaaktyd: 1 uur 45 minute

4 lamsniertjies, skoongemaak

melk vir week

8 lamstjops, in blokkies gesny

15 ml (1 e) meel

sout en peper

15 ml (1 e) olie

500 ml (2 k) beesvleisaftreksel

4 baba-uie, gehalveer

3 wortels, geskil en in skywe gesny

½ peperwortel, geskil en gerasper

4 takkies tiemie

4 aartappels, in dun skywe gesny

25 g botter

1 Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 4 mini-kasserolbakke.

2 Plaas die niertjies op ’n snyplank. Sny middeldeur en verwyder die middelste membraan. Week ’n driekwartier tot ’n uur in ’n bak melk. Dreineer.

3 Bedek die niertjies en lamsvleis met meel en geur met sout en peper.

4 Verhit die olie in ’n pan en verbruin die lamsvleis. Voeg die niertjies in die braaipan by en braai liggies. Verwyder uit die pan en sit eenkant.

5 Gooi die aftreksel in die pan en roer om die bruin stukkies van die bodem van die pan af te skraap. Voeg die ui, wortel, peperwortel en tiemie by. Sit die vleis terug in die pan en kook 5 minute tot die mengsel verdik.

6 Verdeel die vleis-en-groentemengsel tussen die voorbereide kasserolbakke. Bedek elkeen met ’n dun laag aartappelskywe wat effens oorvleuel. Smelt die botter en verf dit oor die aartappel. Geur met sout en peper.

7 Bedek die kasserolbakke met aluminiumfoelie en bak 1½ uur. Haal die foelie ná ’n uur af sodat die aartappels goudbruin kan raak.

- Hope Malau