Varkneksteaks is anders as die res van die snitte aan die varkkarkas. Dit is goed gemarmer met vet en daarom is dit heerlik sag. Die marinade is hemels hierby. Vark hoef nie meer goed gaargemaak te word nie, want varke word deesdae in beheerde omstandighede grootgemaak, wat die vleis mediumgaar ook veilig maak om te eet.

Genoeg vir 6

Bereiding: 30 min.

Gaarmaak: 15-20 min.

MARINADE

180 ml (¾ k) lemoensap

30 ml (2 e) appelkooskonfyt

30 ml (2 e) heelkorrel-mosterd

15 ml (1 e) sojasous

30 ml (2 e) olie

knippie elk fyn komyn, gemmer en koljander

hand vol gekapte koljanderblare

VARK

6 varkneksteaks, 3 cm dik gesny

sout

VIR VOOR SIT

1 rogbrood, in drie lae gesny (nie dwarsdeur nie)

mosterdbotter

rooi-uieringe

dik skywe brie en roketblare

  1. Marinade Meng al die bestanddele en laat die vleis 30 min. daarin marineer.
  2. Vark Geur die vleis met die sout en braai oor warm kole tot dit alkant geseël is. Stel die rooster hoër en braai tot gaar, maar nie droog nie. Verf gereeld met die marinade terwyl jy braai.
  3. Vir voorsit Smeer die brood met die botter en stop die uieringe en kaas saam met die roket in die gleuwe.
  4. Braai vinnig oor warm kole en sit voor saam met die varkneksteaks.