Vark is sag, veelsydig en bekostigbaar. En as jy die uitevet afsny, is dit gesond ook. Ons het dié resep van Adam Liaw, Australië se tweede MasterChef, aangepas.

  • Genoeg vir 4-6 mense
  • Bereiding: 7 minute
  • Staantyd: oornag
  • Gaarmaaktyd: 45-50 minute
VLEIS
  • 1 kg varklies, ontbeen
VRYFMENGSEL
  • 30 ml (2 e) vinkelsaadjies
  • 3 knoffelhuisies
  • 15 ml (1 e) swartpeperkorrels
  • 30 ml (2 e) olyfolie
AFRONDING
  • 15 ml (1 e) growwe seesout
APPELSALSA
  • 2 Granny Smith-appels, geskil, ontstronk, in blokkies gekap
  • 15 ml (1 e) suurlemoensap
  • 15 ml (1 e) Dijon-mosterd
  • 30 ml (2 e) heuning
DOOPSOUS
  • 125 ml (½ k) sojasous
  • 15 ml (1 e) rysasyn
  • 1 rooi brandrissie, gekap
  • 60 ml (¼ k) koljanderblare, gekap
* k – koppie(s) e – eetlepel(s) t – teelepel(s) Stap-vir-stap
  1. Vleis Steek oral in die swoerdkant van die varklies gaatjies.
  2. Plaas dit met die velkant na bo in ’n vergiettes en giet ’n ketel kookwater oor. Die vel sal saamtrek en die vleis sal valer raak.
  3. Klad met kombuispapier droog en sny teen die grein diep kepe aan die vleiskant van die lies. Sny deur tot by die vetgedeelte, maar nie deur die vel nie.
  4. Vryfmengsel Stamp die bestanddele saam in ’n vysel fyn. Smeer die vleiskant met die mengsel. Vryf dit goed by die vleisgleuwe in, maar moenie dat dit op die velkant kom nie.
  5. Afronding Plaas die lies met die vel na bo op ’n draadrak op ’n bakplaat. Vryf met die sout in. Laat staan oornag in die yskas. Voorverhit die oond tot 220 °C. Klad die velkant van die vark weer droog (druppeltjies sal op die vel vorm) en plaas op ’n skoon rakkie, met die velkant na onder, op ’n droë bakplaat. Oondrooster 20 minute; draai om en rooster nog 20 minute. Skakel die roosterelement aan, maak die oonddeur effens oop en rooster tot die vel goudbruin en bros bo-op is. Haal uit, laat rus die vleis minstens 20 minute en sny in skywe.

Appelsalsa Meng alles, proe en geur met die sout.

Doopsous Meng al die bestanddele. Sit die salsa en die sous saam met die vark voor.