Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 30 minute

SOUS

30 ml (2 e) olie

1 ui, gekap

4 knoffelhuisies, gekap

2 jalapeño-brandrissies, gekap

125 ml (½ k) water

1 blik (410 g) tamatiepuree

60 ml (¼ k) tamatiepasta

125 ml (½ k) worcestersous

250 ml (1 k) blatjang

45 ml (3 e) suiker

30 ml (2 e) asyn

BURGER

300 g gerookte varkfilet

sout en vars gemaalde swartpeper

15 ml (1 e) olie

4 hamburgerrolletjies

blaarslaaiblare

1 Sous Verhit die olie in ’n braaipan oor matige hitte. Voeg die ui, knoffel en brandrissies by en braai tot die ui sag is. Voeg die oorblywende sousbestanddele by en laat prut 30 minute.

2 Burger Verhit intussen ’n aparte groot braaipan oor matige hitte tot baie warm. Geur die varkfilet met sout en peper en vryf met die olie. Braai die filet 10 minute of tot deurgaar maar steeds vogtig in die warm pan terwyl jy dit elke 2 minute omdraai. Laat die vleis rus en sny dan in skywe.

3 Halveer die rolletjies, sit die slaaiblare op die onderste helftes, voeg die vleis by en skep die sous oor. Bedek met die oorblywende rolletjiehelftes.

- Hope Malau