Genoeg vir 6

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 25 minute

500g varkmaalvleis

1 eier, geklop

60 ml (¼ k) hoisin-sous

’n hand vol pietersielie, gekap

180 ml (¾ k) vars broodkrummels

sout en vars gemaalde swartpeper

1 ui, fyngekap

30 ml (2 T) olie

2 knoffelhuisies, gemaal

OM TE VOLTOOI

60 ml (¼ k) meel

2 eiers, geklop

125 ml (½ k) droë broodkrummels

olie vir vlakbraai

SIT VOOR MET

6 rolletjies, slaaiblare, skywe tamatie en uie

sous(e) van jou keuse

1    Voorverhit die oond tot 180 °C.

2    Meng die maalvleis met die eiers, hoisin-sous, pietersielie, broodkrummels, sout en peper.

3    Braai die ui in die olie tot sag, maar nie bruin nie. Meng die knoffel by en ’n bietjie sout en peper. Laat koel af en kombineer dit met die maalvleis-mengsel.

4    Vorm mediumgrootte-hamburgerfrikkadelle met die mengsel.

5    Om te voltooi: Plaas die meel, eier en broodkrummels in aparte vlak skottels.

6    Doop die frikkadelle in die meel, dan die eier en laaste in die broodkrummels. Vlakbraai 4 minute in warm olie aan elke kant. Dreineer op kombuispapier, plaas op bakplaat en bak sowat 5 minute in die oond om seker te maak die vleis is goed gaar.

7    Sit só voor: Plaas die frikkadelle in rolletjies saam met slaaiblare, tamatie, uie en sous(e) van jou keuse.