Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 min.

Marineer: 30 min.

Gaarmaak: 20 min.

Marinade

7 cm-stuk vars gemmer, gerasper

45 ml (3 e) ryswynasyn

15 ml (1 e) brandrissievlokkies

sout en peper

30 ml (2 e) sojasous

2 × 300 g varkfilet

Panbrood

1 L (4 k) meel

300 ml kookwater

45 ml (3 e) olyfolie

Doopsous

15 ml (1 e) olie

125 ml (½ k) braaisous

60 ml (¼ k) strooisuiker

125 ml (½ k) water

15 ml (1 e) sojasous

15 ml (1 e) mielieblom, in water opgelos om ’n pasta te vorm

Vir voorsit

3 sprietuie, in skywe gesny

Voorverhit die oond tot 180 °C.

  1. Marinade Plaas al die bestanddele buiten die vark in ’n bak en roer om te meng. Voeg die vark by die marinade, bedek en marineer 30 min. of oornag in die yskas.
  2. Panbrood Sif die meel in ’n mengbak en giet die water stadig in terwyl jy aanhoudend roer. Meng die olie in wanneer die deeg koel genoeg is om te hanteer en knie 5 min. of tot glad. Bedek met ’n lap en laat rus sowat 30 min.
  3. Haal die deeg uit die bak en knie ’n paar keer. Verdeel die deeg in klein balle en vorm dan dun skywe.
  4. Maak ’n kleefwerende pan oor matige hitte warm en braai elke panbrood weerskante tot dit begin verbruin en effens borrel.
  5. Doopsous Verhit al die bestanddele behalwe die mielieblompasta in ’n pan. Wanneer die sous effens begin prut, voeg die mielieblompasta by en roer tot verdik. Sit eenkant om af te koel.
  6. Haal die vark uit die marinade. Verhit olie in ’n braaipan oor matige hitte en braai die vark sowat 5 min. tot verbruin. Sit op ’n bakplaat en bak 15 min. of tot die sap deurskynend uitloop. Sny in dun skywe.
  7. Vir voorsit Sit die vark, panbrood en sprietuie in aparte bakke voor met die doopsous as bykos. Voltooi deur ’n panbrood op ’n bord te sit en met vark, sous en ui te bedek. Rol op en smul.

Deur Hope Malau

Foto: Misha Jordaan