Hoe langer jy die hoenderborsies marineer, hoe beter is die smaak.

Genoeg vir 4 mense

Voorbereiding: 20 minute

Staantyd: 20 minute

Gaarmaaktyd: 10—15 minute

4 hoenderborsies, sonder vel en been

60 ml (¼ k) olyfolie

1 klein ui, fyn gekap

3 knoffelhuisies, gekneus

15 ml (1 e) gemmerwortel, gerasper

40 ml tandoori-masala

sout en vars gemaalde swartpeper

8 halloumi-kaasskywe

babaspinasie of rooi spinasieblare

100 ml humus

4 broodrolletjies, gehalveer

100 g gebraaide patatskywe

Plaas die hoenderborsies op ’n werkoppervlak, bedek met kleefplastiek en kap liggies met ’n vleishamer. Verhit die helfte van die olie en braai die ui tot sag en geurig. Voeg die knoffel, gemmerwortel en masala by en roerbraai 3 minute. Geur met sout en peper. Laat die mengsel afkoel en marineer die hoenderborsies sowat 20 minute of langer daarin. As die borsies groot is, sny elkeen in die helfte. Verhit die res van die olie en braai die borsies tot gaar. Verhit nog ’n bietjie olie en braai die halloumi tot goudbruin. Dit moet reg aan die einde gedoen word, want die halloumi raak rubberagtig as dit te lank staan. Rangskik die spinasieblare op die onderste helfte van die rolletjies, gevolg deur een helfte van die borsie, halloumi, die ander helfte van die borsie, humus en dan die gebraaide patatskywe. Plaas die ander helfte van die rolletjie op die patatskywe en steek ’n houtstokkie deur om alles stewig vas te hou. Sit voor met gebraaide uieringe.