Stroganoff is ideaal as huiskos, maar jy kan weer eens met gemak gaste daarop trakteer. Die meeste mense ken stroganoff wat met gesoteerde uie en sampioene gemaak word en wat jy dan met rys eet. Tog is daar talle maniere waarop dit voorgesit kan word. Ons variasie is ’n kombinasie van resepte om dit op sy lekkerste te maak.

750 g beesfilet

sout en vars gemaalde swartpeper

15 – 20 ml koekmeel

60 ml botter

2 middelslaguie, gehalveer en dun gesny

250 g knopiesampioene, gehalveer

30 ml tamatiepasta

150 ml suurroom

Sny die filet in 5 mm dik skywe en dan in repies van 5 mm breed en 5 cm lank.

Geur dit goed met sout en peper en skud dit in die meel in ’n plastieksakkie.

Verhit 30 ml van die botter in ’n swaarboompan en braai die uie tot dit net bruin begin verkleur.

Skep dit uit met ’n gaatjieslepel.

Voeg die sampioene in dieselfde pan by en braai tot dit sag is.

Skep die sampioene ook met ’n gaatjieslepel uit.

Voeg die res van die botter in die pan en maak goed warm.

Braai die filetrepies 3 – 4 minute in kleiner hoeveelhede op ’n keer oor hoë hitte.

Skud die pan om te verseker dat die vleis nie vasbrand nie.

Sodra al die vleis gebraai is,  sit dit saam met die uie en sampioene terug in die pan en maak deurwarm.

Verlaag die hitte en voeg nog sout en peper by indien nodig.

Voeg die tamatiepasta en suurroom by en roer liggies om die gebraaide deeltjies van die pan los te maak.

Plaas die kastrol met die vleis oor ’n groter kastrol kokende water en laat 5 minute so staan sodat die smake kan ontwikkel.

Sit dit voor met dun gebraaide aartappelstrooitjies.