Varkfilet bevat baie min vet, kan vinnig gaargemaak word en is bekostigbaar.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 10-15 minute

MARINADE EN VLEIS

10 ml (2 t) bruinsuiker

15 ml (1 e) sojasous

10 ml (2 t) olyfolie

15 ml (1 e) sjerrie

30 ml (2 e) tamatiepasta

800 g varkfilet, in blokkies gesny

SOSATIES

½ pynappel, geskil en in skywe gesny

1 groot ui, in wiggies gesny

1 elk rooi en groen soetrissie, ontpit en in blokkies gesny

Week ’n paar houtsosatiestokkies in warm water.

  1. MARINADE EN VLEIS Meng al die marinade-bestanddele saam en giet oor die vleisblokkies in ’n nie-metaalbak. Meng deur en laat minstens 30 minute marineer.
  2. SOSATIES Voorverhit intussen die oond tot 200 °C en voer ’n bakplaat met foelie uit.
  3. Sny die pynappelskywe in kleiner stukkies en haal die lagies van die uiewiggies versigtig uit mekaar.
  4. Ryg die vleisblokkies, pynappelstukkies, ui en soetrissies afwisselend op die stokkies.
  5. Bedek die oop stukkies hout met foelie om te keer dat dit in die oond brand.
  6. Pak die sosaties op die bakplaat en verf met die marinade. Oondrooster 10-15 minute tot gaar. Draai af en toe om en verf gereeld met die marinade. Sit voor met ’n aartappelslaai wat met laervet-mayonnaise gemaak is.