Deirdre Schonken se oorlede ma het graag gesmul aan ribbetjies. Kry die ribbetjies voor kerk gereed sodat dit lekker kan marineer. Druk dit dan in die oond terwyl jy die ander kos aan die gang sit.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 minute

Marineertyd: 3 uur

Gaarmaaktyd: 1 uur

60 ml (¼ k) olyfolie

250 ml (1 k) sjerrie

125 ml (½ k) tamatiepuree

60 ml (¼ k) sojasous

60 ml (¼ k) bruinsuiker

60 ml (¼ k) heuning

15 ml (1 e) paprika

10 ml (2 t) mosterdpoeier

1 kg vark- of lamsrib, in ribbetjies gesaag

Meng al die bestanddele goed en giet oor die rib in ’n oondbak.

Marineer vir ongeveer 3 uur.

Voorverhit die oond tot 160 °C.

Oondbraai ongeveer 1 uur tot die vleis sag is.

Bedruip deurgaans met van die marinade.

Sit voor met warm slaai.

WENKE

  • Die ribbetjies kan eers vooraf in water gekook word om sodoende die braaityd te verminder.
  • As jy die ribbetjies oornag wil marineer, sorg dat die marinade of vryfgeursel min sout bevat. Anders begin proe die ribbetjies dalk na ham of spek. Geur eerder met sout net voor jy dit gaarmaak.
  • As jy dit oor die kole braai, gooi die marinade in die laaste paar minute oor om te keer dat die kole vlam vat van die druppende vloeistof.
  • As jy dit in die oond bak, plaas dit op ’n draadrak in ’n oondpan wat met foelie uitgevoer is. Dit maak makliker skoon.

Volg Huisgenoot op Twitter.