Renata Coetzee is die enigste mens wat al oor bykans al ons land se eetkulture geskryf het. In Spys en Drank, wat in 1977 verskyn het, verduidelik sy die verloop van die Afrikaanse eetkultuur. Met die verskyning in 1982 van Funa, Food from Africa, het sy dieper gaan kyk na die tradisies van Afrika-kos. Hiervoor het sy in 2002 die kanseliersmedalje by

Tukkies ontvang en in 2007 het Noordwes-universiteit ’n eredoktorsgraad aan haar toegeken.

In die dae van die ou Kaap het die armes van plankies af geëet en die rykes uit piouter.

Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 1½ uur

2 kg skaaprugstring, deurgesaag, maar ribbeentjies nog vas aan mekaar (2 stukke met 6 of 7 beentjies elk)

2 uie, gekap

’n bietjie botter of olie

250 ml (1 k) droë witwyn

250 ml (1 k) druiwe-asyn

5 ml (1 t) droë basilie

2 ml (½ t) fyn naeltjies

sout na smaak

500 ml (2 k) vleisaftreksel

1 rol (200 g) skilferkorsdeeg, ontdooi en effe dunner gerol

eiergeel-en-melk-mengsel om oor te verf

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Braai die vleis en uie in die botter of olie in ’n platboomkastrol tot effe bruin.

Voeg die res van die bestanddele (buiten die skilferkorsdeeg) by en laat prut tot die vleis van die beentjies afval. (Die vleis moet sappig maar nie souserig wees nie.)

Skep dit in ’n pasteiskottel en laat afkoel.

Rangskik die rugstringbene bo-op sodat dit oorkruis regop staan.

Maak ’n lang snit in die middel van die deeg en bedek die pastei daarmee – die beentjies moet deur die snit steek.

Sny lang repe uit die oorskietdeeg en versier die kors daarmee.

Verf dit met die eiergeel-en-melkmengsel en bak sowat 20 minute tot die deeg goudbruin en gaar is.

Sit voor met groenboontjies en geelrys met rosyne.

Geelrys met rosyne

750 ml (3 k) kookwater

250 ml (1 k) rys

1 stukkie pypkaneel

2 ml (½ t) borrie

5 ml (1 t) sout

60 ml (4 e) geelsuiker

15 ml (1 e) botter

125 ml (½ k) ontpitte rosyne

Giet die kookwater in ’n kastrol en voeg al die bestanddele (buiten die rosyne) by.

Laat dit stadig kook tot amper gaar.

Roer die rosyne by en laat dit oor ’n lae hitte gaar stoom.

Volg Huisgenoot op Twitter.