Het jy meer gekook as wat jou familie kon baasraak? Voor jy dit vries of weggee, wys ons jou hoe om verskeie smulgeregte uit oorskietkos op te tower. Boonop is al hierdie geregte blitsvinnig om te berei, want die meeste van die kos is mos al klaar gaar.

BRAAIVLEISBREDIE

Omskep die naweek se oorskietbraaivleistjops in ’n vullende bredie en sit dit op ’n weekdag voor vir aandkos. Binne ’n halfuur kan julle aansit en eet. Dis genoeg vir 4-6 mense. Die bereiding is 10 minute en die gaarmaaktyd sowat 15 minute.

Die bestanddele is: 15 ml (1 e) olyfolie; 1 ui, grof gekap; 1 knoffel-huisie, gekneus; sout en vars gemaalde swartpeper; 6-8 heel gebraaide skaaptjops; 1 blik (410 g) heel tamaties; 1 blik (410 g) botterbone, gedreineer; 250 ml (1 k) vleisaftreksel; 20 ml (4 t) blatjang; 250 ml (1 k) vars basilieblare; 15 swart olywe, ontpit; gekapte pietersielie en ekstra basilieblare vir garnering.

Verhit die olyfolie in ’n groot pan en braai die ui en knoffel daarin tot sag en geurig. Geur met sout en peper. Voeg die skaaptjops, tamaties, botterbone, aftreksel, blatjang en basilieblare by en roer goed. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat sowat 10-15 minute oor lae hitte prut tot geurig en warm. Voeg die olywe by en garneer met pietersielie en ekstra basilieblare. Sit voor saam met romerige fyn-aartappels en ’n vars groenslaai.