Umgqusho onembhotyi (stampmielies en bone) is ’n integrale deel van Xhosa-cuisine. Normaalweg word daar net na die gereg verwys as umgqusho, wat stampmielies beteken.

Dit word op sy eie of saam met vleisbredie of hoender en vleissous voorgesit.

Genoeg vir 4-6 mense

Weektyd: oornag

Bereiding: 10 min

Gaarmaaktyd: 4 uur

STAMPMIELIES EN BONE

500 ml (2 k) stampmielies, afgespoel en oornag geweek; 500 ml (2 k) droë suikerbone, afgespoel en oornag geweek; 2 L (8 k) water; sout; 45 ml (3 t) Holsum (opsioneel)

VLEIS

1,5 kg skaapvleis, in stukke gesny; 2 uie, fyn gekap; knippie sout; 15 ml (1 e) kerriepoeier; 10 ml (1 t) elk biefstuk-en-tjops-spesery en braaispesery (opsioneel); 60 ml (¼ k) blatjang (opsioneel); 1 blokkie bees- of skaapvleisaftreksel; 500 ml (2 k) kookwater; 4 aartappels, gehalveer of in kwarte gesny; 6 wortels, in stukke gesny

STAMPMIELIES EN BONE Dreineer die geweekte stampmielies en bone en spoel dit af. Plaas in ’n pot, bedek met water en bring tot kookpunt oor ’n hoë hitte. Verlaag die hitte tot medium en laat prut sowat 3 uur of tot gaar en sag. Geur met sout en voeg die Holsum by (indien gebruik) vir geur.

VLEIS Sit intussen die vleis in ’n groot pot en verbruin dit oor matige hitte en roer aanhouend. Roer die uie in en voeg sout en kerriepoeier by en, indien gebruik, die speserye en blatjang. Los die aftrekselblokkie in die kookwater op en voeg by.

Laat prut 10 minute en voeg groente by. Laat prut tot die vleis en groente gaar is. Sit voor met die stampmielies en bone.