Eenpotgeregte is ware winterkos, maak nie saak of jy dit ure lank op die stoof laat prut of alles sommer so in ’n bak skep en in die oond druk nie. Daarna is dit terugsit en ontspan, miskien met ’n glasie rooiwyn, die ene afwagting tot daardie geluksalige bak kos uiteindelik stomend warm sy pad tafel toe vind. Al wat verder nodig is, is miskien ’n bietjie rys of kapokaartappel, selfs ’n snytjie brood om die laaste souserigheid op te vee.

SKAAPBREDIE MET GEBRAAIDE PIESANG

Groot was my verbasing toe ek proe hoe lekker gebraaide piesang en vars lemoensap by skaapribbetjie pas. Francis Fortuin van Swellendam het hierdie resep vir ons gestuur.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 20 min

Gaarmaaktyd: sowat 1 uur

30 ml (2 e) olie; 2 uie, in skywe gesny; 1 knoffelhuisie, gekneus; 1 klein soetrissie, ontpit en in kwarte gesny; 2 brandrissies, fyn gekap (opsioneel); 2 wortels, in lang, dun repe gesny; 1 raap, in blokkies gesny; 500 g skaaprib, in kleiner stukkies gesny; 5 ml (1 t) fyn koljander; sout en vars gemaalde swartpeper; sap en skil van een vars lemoen; 1 blik (410 g) gekapte tamaties; 500 ml (2 k) gaar, droë bone (gebruik enige droë bone); 30 ml (2 e) botter; 3 piesangs, in skywe gesny

Verhit die helfte van die olie en braai die uie, knoffel, soetrissie, brandrissies, wortels en raap sowat 5 minute oor hoë hitte. Skep die groente uit en verhit die res van die olie. Braai die skaapribbetjies tot goudbruin, geur met koljander, sout en peper en voeg die lemoensap en -skil by. Bedek, verlaag die hitte en laat stowe sowat 40-60 minute of tot die vleis sag is. Roer die tamaties en gaar bone by die vleis, meng goed en verhit tot alles deurwarm is. Verhit die botter in ’n pan en braai die piesangskywe daarin tot goudbruin. Skep net voor opdiening bo-op die vleis.