Ons kook vinnige Italiaanse huiskos saam met Jamie Oliver se hoofsjef, Marcos Georgiou.

SAMPIOEN-GNOCCHI MET BOEREWORS-FRIKKADELLE

In Londen maak Marcos hierdie gereg met varkworsies, maar hier verkies hy regte, egte boerewors.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 30 minute

Gaarmaaktyd: 30 minute

SAMPIOENE

1 pakkie (200 g) portebellini- of knopiesampioene, fyn opgekap; olyfolie; 500 g aartappels, saggekook en velletjies verwyder; 5 ml (1 t) sout; 1 eier; sowat 100 ml koekmeelblom

FRIKKADELMENGSEL

100 ml olyfolie; 300 g boereworsvleis; 30 ml (2 e) gekapte roosmaryn; 125 ml (½ k) witwyn;150 g jong groenbone, gehalveer; vars gerasperde parmesaankaas en roketblare om mee voor te sit

GNOCCHI

1. Roerbraai die sampioene in ’n bietjie olyfolie tot dit nie meer waterig is nie. Laat afkoel. Hou eenkant. Druk die aartappels goed fyn en meng met die sampioene in ’n bak. Geur met sout. Breek die eier in.

2. Voeg die meel bietjie-bietjie by en meng tot ’n sagte deeg wat nie meer aan die kante vassit nie.

3. Bestuif ’n werkoppervlak effe met meel en knie-druk die deeg in ’n bol. Rol in ’n langerige rol en verdeel in vier stukke.

4. Rol elke stuk deeg nou in ’n lang, dun slangetjie, sowat 2 cm in deursnee, en sny elk dan in 2 cm-stukkies. Pak op ’n skinkbord.

5. Bring intussen ’n pot met heelwat soutwater tot kookpunt en voeg sowat 30 ml (2 e) olyfolie by. Voeg die gnocchi op een slag by.

6. Kook tot die gnocchi op die oppervlak dryf en giet dan die water in ’n vergiettes af. Hou die gnocchi eenkant.

FRIKKADELMENGSEL

Vorm die boereworsvleis in klein bolletjies en braai in verhitte olie tot net gaar. Voeg die roosmaryn en witwyn by en laat kook tot die sous effe afgekook en geurig is. Voeg die groenbone teen die einde by. Voeg die gaar gnocchi by en laat prut tot warm. Skep in ’n opdienskottel, sprinkel parmesaankaas oor en sit voor met vars roketblare.