Ons lesers weet hoe om uit vleissnitte die heerlikste geregte te maak.

PLATRIBROL MET SPINASIE-VULSEL

Leona Kritzinger van Bellville vertel haar buurvrou neem haar vulsel en vleis na haar slagter en hy vul en rol dit dan vir haar.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 20-25 minute

Gaarmaaktyd: sowat 2 uur

15 ml (1 e) olie; 125 g spekvleis, in blokkies gesny; 2 preie, in ringe gesny; 1 knoffelhuisie, gekneus; sout en vars gemaalde swartpeper; 15 ml (1 e) vars tiemie; 125 g spinasie, fyn gekap; 75 ml (5 e) vars witbroodkrummels; 60 g bloukaas, gekrummel; 1,5 kg beesplatrib, ontbeen; 40 ml vars suurlemoensap; 500 ml droë witwyn; geroosterde groente vir opdiening

Voorverhit die oond tot 160 C.

Verhit die olie in ’n pan en braai die spek, preie en knoffel ’n paar minute. Geur met sout en peper en verwyder van die hitte. Laat dit effens afkoel en voeg die tiemie, spinasie, broodkrummels en bloukaas by.

Plaas die vleis op ’n skoon werkoppervlak en skep die vulsel bo-op. Versprei die vulsel sodat die hele oppervlak bedek is en druk die vulsel effens plat met jou hand sodat dit makliker rol. Rol die vleis op en bind dit vas met tou.

Plaas die rol in ’n groot oondbak en geur buite-om met sout, peper en suurlemoensap. Voeg die witwyn by.

Oondbraai 2 uur of tot die vleis gaar is. Laat staan die vleisstuk 10 minute voor jy dit in skywe sny. Sit voor met geroosterde groente.