Ek kom uit ’n huis waar die meeste van die gesinslede ‘‘selektiewe eters’’ is. My ma het dus van ons kleindae af die kuns vervolmaak om met oëverblindery vir ons kos te laat eet waarvoor ons fiemies gehad het.

As jou kinders ook hul neus optrek vir kosse soos spinasie, vis, soetrissies, vrugte en bone, volg gerus ’n paar van ons ‘‘toorkunsies’’ en jy sal verbaas wees om te sien hoe hulle dit wegslaan sonder enige weerstand.

HOENDERBURGER MET KERSIETAMATIESOUS

Die geheim van hierdie burger lê in die kersietamatiesous. Gebruik verkieslik ryp tamaties.

Genoeg vir 4 burgers

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 15-20 minute

KERSIETAMATIESOUS

30 ml (2 e) olyfolie; 250 g klein Roma-kersietamaties; sout en vars gemaalde swartpeper; knippie bruinsuiker; 60 ml (¼ k) parmesaankaas, fyn gerasper (opsioneel)

HOENDERBURGER

4 hoenderborsfilette; 30 ml (2 e) olyfolie; sout en vars gemaalde swartpeper; 2 uie, in ringe gesny; 4 hamburgerrolletjies, gehalveer; 100 ml growwe maaskaas; blaarslaai

KERSIETAMATIESOUS Verhit die olyfolie en braai die tamaties teen ’n baie hoë hitte tot hulle oopbars. Geur met sout, peper en suiker.

Druk die tamaties fyn met ’n aartappeldrukker of ’n vurk en roer die parmesaankaas daarby. Hou die sous eenkant en verhit.

HOENDERBURGER Plaas die hoenderborsfilette op ’n skoon werkoppervlak en kap liggies plat met ’n vleishamer of jou hand. (Hoe platter die hoenderborsies is, hoe vinniger word dit gaar.)

Verhit die olie en braai die hoenderborsies tot goudbruin en gaar; geur die borsies met sout en peper.

Verwyder van die hitte en braai die uie oor ’n hoë hitte. Geur met sout en peper.

Smeer die onderkante van die rolletjies met ’n lagie maaskaas. Rangskik die blare bo-op elk, gevolg deur ’n hoenderfilet en ’n skep gebraaide uie.

Gooi laastens die kersietamatiesous oor.