Dis genoeg vir 8 mense. Bereiding: 30 minute. Staantyd: oornag (kors) en gaarmaaktyd: 3 uur 35 minute.

Bestanddele: 60 ml (¼ k) koekmeel; sout en peper; 2 kg beesstert, deur litte in stukke gesny; 100 ml olie; 2 groot knoffelhuisies, gekneus; 1 groot ui, gekap; 2 geelwortels, in ringe gesny; 1 selderystingel, in stukkies gesny; 200 g gerookte spekvleis, in klein stukkies gesny; 250 ml (1 k) droë rooiwyn; 4 tiemie-takkies; 1 roosmaryntakkie; 4 pietersielietakkies; 2 lourierblare; 750 ml (3 k) beesvleisaftreksel; 80 ml (? k) tamatiepasta; 1 pak (250 g) ontpitte pruimedante (opsioneel); 1 warmwaterkors (sien resep); 1 eiergeel, geklits.

Metode: Meng die meel, sout en peper in ’n plastieksak en skud die beesstert daarin om dit met meel te bedek. Verhit 80 ml (? k) van die olie in ’n groot pan en braai ’n paar stukkies beesstert op ’n slag tot bruin. Verhit die res van die olie in ’n groot kastrol of drukkastrol en roerbraai die knoffel, ui, geelwortels, seldery en spek tot ligbruin. Voeg die wyn by en laat onbedek prut tot die wyn met die helfte verminder het. Bind al die kruietakkies en lourierblare met ’n toutjie vas en voeg dit saam met die aftreksel en tamatiepasta by die groentemengsel. Roer die vleis in, bedek en kook 3 uur (90 minute in die drukkastrol) of tot die vleis sag is en van die bene afval. Verwyder die bossie kruie en laat die vleis afkoel. Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer ’n groot, oondvaste bak. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Voer net die bodem van die gesmeerde bak daarmee uit. Skep die vet van die vleis af en haal die bene uit. Roer die pruimedante by die vleismengsel in. Skep die vleis op die deeg in die bak. Sny nog ’n stuk deeg om die bokant te bedek en smeer dit met die eiergeel. Verkoel 30 minute in die yskas. Bak 15 minute in die voorverhitte oond, verlaag die temperatuur tot 180 °C en bak nog 20 minute of tot die kors ligbruin en bros is.