Shirley Dorman van Brooklyn is ook ’n wenner in ons Le Creuset-kompetisie. Sy het ons veral beïndruk met ’n verskeidenheid resepte, die een so lekker soos die ander, kompleet met mooi foto’s daarby.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 5 minute

Gaarmaaktyd: 15 minute

200-300 g biefstuk van jou keuse per persoon

sout

olyfolie

125 g (½ pakkie) spekrepe

1 pynappel, in skywe gesny

250 g aspersies

botter

½ vars suurlemoen se sap

peper

30 ml (2 e) rum of brandewyn

Geur die biefstuk met sout en laat staan 5 minute. Vryf met olyfolie.

Braai intussen die spek tot lekker bros in ’n ander pan, skep uit en braai dan die pynappelskywe in dieselfde pan tot effens geskroei.

Braai die aspersies in ’n lekker klont botter tot gaar, besprinkel met suurlemoen en geur met sout en peper.

Verhit ’n riffelpan tot rookwarm en plaas die biefstuk daarin. Braai tot die biefstuk loskom van die pan en draai om.

Braai nog 3-5 minute afhangende van hoe gaar die biefstuk moet wees. Laat rus minstens 5 minute.

Giet die rum of brandewyn oor, staan weg en steek brand. Wag tot die vlam verdoof.

Om voor te sit: Rangskik die aspersies op die bord, plaas die vleis bo-op en rangskik die pynappel en spek bo-op. Giet van die pansouse oor.

Volg Huisgenoot op Twitter.