Die volmaakte maaltyd om te geniet terwyl jy ’n sportwedstryd kyk.

Genoeg vir 6

Bereiding: 10 min.

Rys: 1 uur

Gaarmaak: 25 min.

Basis

1 liter (4 k) meel

15 ml (1 e) sout

10 g gis

15 ml (1 e) suiker

Bolaag

20 g botter

300 g beesvleisrepe

2 knoffelhuisies

125 ml (½ k) prego-sous

30 ml (2 e) room

125 ml (½ k) mozzarellakaas, gerasper

45 ml (3 e) olyfolie

’n hand vol roket

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit.

  1. Basis: Plaas die meel en sout in ’n groot mengbak en maak ’n holte in die middel. Los die gis saam met die suiker op in 500 ml (2 k) louwarm water. Roer tot die mengsel begin skuim en gooi dit dan in die holte in die meel. Meng die meel en die water tot dit ’n sagte deeg vorm.
  2. Knie die deeg sowat 5 min. op ’n oppervlak wat met meel bestrooi is of tot glad en elasties. Sit die deeg in die bak terug, bedek met kleefplastiek en laat 1 uur rys of tot die deeg se grootte verdubbel het.
  3. Bolaag: Verhit die botter in ’n kastrol oor matige hitte en braai die vleis tot effens verbruin. Voeg die knoffel en sous by. Verminder die hitte en laat 3 min. prut. Giet die room in en sit eenkant.
  4. Haal die deeg uit die bak, plaas dit op ’n oppervlak wat met meel bestrooi is en knie weer 3 min. Verdeel die deeg in 4 stukke en rol uit in sirkels. Plaas die platbrode op gesmeerde bakplate, smeer ’n dun laag van die pregosous oor elke basis en strooi mozzarella oor.
  5. Bedruip met olyfolie en bak 15 min. of tot bros. Haal uit die oond en strooi die beesvleis en oorskietsous oor. Sit terug in die oond en bak 5 min. of tot die beesvleis warm is. Strooi die roket oor en geur na smaak.

Deur Hope Malau

Foto: Misha Jordaan