Genoeg vir 4-6 mense

Week: 3 uur (vir die slaai)

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 1½ uur

BREDIE

50 g botter

1 kg bees- of lamsvleis

2 uie, gekap

3 knoffelhuisies, fyn gekap

5 cm vars gemmer, gerasper

2 kaneelstokke

5 ml (2 t) ras-el-hanout (sien wenk)

7,5 ml (1½ t) sout

5 ml (1 t) swartpeper

2 ml (½ t) borrie

5 ml (1 t) fyn kaneel

45 ml (3 e) heuning

750 ml (3 k) beesvleisaftreksel

150 g dadels, ontpit

ekstra sout en peper (opsioneel)

10 ml (2 t) gekapte vars pietersielie

BULGURSLAAI

140 g bulgurkoring, 3 uur in koue water geweek

1 rooi ui, fyn gekap

2 tamaties, saad verwyder, in klein blokkies gesny

’n hand vol pietersielie, grof gekap

’n klein hand vol vars kruisement, grof gekap

’n hand vol vars koljander, grof gekap

sap van 1 suurlemoen

20 ml (4 t) ekstrasuiwer olyfolie

sout en peper

  1. Beesvleis-tagine: Verhit ’n groot kastrol tot warm, voeg die botter en vleis by en braai weerskante 3 minute of tot goudbruin (jy sal dit dalk in sarsies moet doen). Verwyder die vleis uit die kastrol en sit eenkant op ’n bord.
  2. Voeg die uie, knoffel en vars gemmer in die kastrol en braai tot sag. Roer die speserye en geurmiddels in en kook ’n minuut. Plaas dan die vleis in die kastrol terug en roer tot die vleis met al die speserye bedek is.
  3. Voeg die heuning en aftreksel by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte tot prutpunt en bedek met ’n deksel. Kook 1 uur.
  4. Voeg die dadels by en roer goed. Kook onbedek nog 30 minute of tot die beesvleis sag is en die sous verdik het. Voeg ekstra sout en peper by as jy wil en roer die pietersielie in.
  5. Bulgurslaai: Dreineer die bulgurkoring en verplaas na ’n groot opdienbord. Voeg die res van die bestanddele by en roer tot goed gemeng.
  6. Sit dit met die bredie voor.

Wenk: Maak ras-el-hanout deur 5 ml (1 t) elke swart peperkorrels, fyn gemmer, komynsaad, koljandersaak en fyn kaneel te meng. Voeg 1 ml (¼ t) elk neutmuskaat, kardamomsaad, paprika, borrie, sout en fyn wonderpeper by. Voeg 4 heel naeltjies by. Meng alles met ’n stamper en vysel tot dit ’n poeier vorm.

Deur Hope Malau