"Tydens my eerste termyn as voorsitter van die Vereniging van Veteraanvonkelvroue het ek kennis gemaak met ’n  voorslag van ’n man by ’n aftree-oord op Maraisburg. Oom Peet was maar allenerig.

Hy het ’n paar keer een van die werfhoenders van sy seun se plaas duskant Naboomspruit gebring en my gevra om vir hom hoenderpastei te maak. Dan het ons twee alte heerlik gekuier, en gesels oor alles en nog wat. Ek het in ’n stadium gereken daar sal iets van kom, maar helaas.

Ek dink dis Kierietjies de Kock van die deli se hoenderkerrie-poffertjies wat hom skugter vir Hillside gemaak het. Elke nou en dan maak ek nog vir hom die pastei, met gewone winkelhoender.

Dan kom maak hy ’n draai by die ouetehuis en dan gesels ons oor die sake van die dag en die dinge wat ’n man van sy gevorderde jare só kan kwel.

Ek kan sonder vrees vir teenspraak sê dat tussen my sagte antwoorde en my voortreflike hoenderpastei hy groot gemoedsrus vind. Dis tog die gedagte wat tel, nè. Is dit nie ’n Franse digter wat geskryf het dat die eetlus tydens die ete groei nie?" - Matrone Netta Nortjé, 7de Laan (Annelize van der Ryst)

Bereiding: 20 minute

Gaarmaak- en baktyd: 75 minute

Genoeg vir 8-10 mense

40 ml (8 t) botter

200 g spekvleis, fyn gesny

250 g sampioene, in dun skyfies gesny

25 ml (5 t) koekmeel

5 ml (1 t) sout

3 ml (ruim ½ t) vars gemaalde swartpeper

1 hoender (1,5 kg), in stukke gesny

5 naeltjies

5 pimentkorrels

4 swartpeperkorrels

1 lourierblaar

50 ml sago

2 hardgekookte eiers, in skywe gesny

1 eiergeel, geklits

25 ml (5 t) asyn of 50 ml (10 t) droë witwyn

1 rol skilferkorsdeeg

Verhit 20 ml (4 t) van die botter in ’n swaarboomkastrol en braai die spek tot bros.

Skep uit en hou eenkant.

Braai die sampioene tot bruin in dieselfde kastrol en skep by die spek; hou eenkant.

Meng die meel, sout en peper en rol die hoenderstukke daarin.

Sorg dat jy dit deeglik doen.

Verhit die res van die botter in dieselfde kastrol en braai die hoender tot alkant bruin.

Bind die naeltjies, piment, peperkorrels en lourierblaar in ’n kaasdoek vas en voeg dit by die hoender.

Voeg die sago by, bedek met water en kook stadig tot die vleis sag is.

Haal die sakkie met speserye uit.

Giet die vleissous af en hou eenkant.

Haal die hoendervleis van die bene af en plaas dit in ’n mengbak.

Voeg die hardgekookte eiers, gebraaide spek en sampioene by.

In hierdie stadium behoort die reuk alleen vir jou al klaar te vertel dat hierdie pastei in heeltemal ’n ander klas is as Kierietjies se konkoksie.

Skep die vleismengsel in ’n  pasteibak – sit ’n omgekeerde koppie of pasteitregter in die middel.

Voorverhit die oond tot 240 °C.

Verhit die vleissous oor lae hitte en voeg die eiergeel by.

Wees versigtig dat dit nie skif nie.

Voeg die asyn of wyn by en giet die vleissous oor die vleis in die pasteibak.

Rol die skilferkorsdeeg dun uit en plaas op die vleis.

Prik met ’n vurk sodat die stoom kan ontsnap.

Bak 15-20 minute, verminder die hitte tot 180 °C en bak nog 15 minute.