Lewer 16 rolletjies

Bereidingstyd: 25-30 minute

Baktyd: 20-30 minute

VULSEL

500 g maer beesmaalvleis

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

125 ml (½ k) fyn vars broodkrummels,

in water geweek

180 ml (¾ k) rosyntjies of sultanas

80 ml (1/3 k) gekapte pekanneute

60 ml (¼ k) gekapte kruie, soos

pietersielie en koljander

30 ml (2 e) Dijon-mosterd

sout en peper

SAMESTELLING

8 velle (2 bokse van 250 g elk) skilferkorsdeeg, ontdooi

1 eier, geklits

sesam- of papawersade vir bo-oor sprinkel

VIR VOORSIT

125 ml (½ k) kersietamaties

olie

sout en peper

80 ml (1/3 k) sondroëtamatiepesto

30 ml (2 e) gekapte basilieblare

Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer 1 of 2 bakplate.

  1. Vulsel Meng al die bestanddele; geur goed met sout en peper. Skep in ’n spuitsak met ’n groot spuitpunt voor.
  2. Samestelling Plaas ’n vel skilferkors op die werkoppervlak en halveer.
  3. Spuit die vulsel in die middel van elke reep skilferkors. Verf rondom met geklitste eier.
  4. Vou die deeg oor die vulsel en druk die oorvou-ente stewig op mekaar vas met ’n vurk. Verf die buitekant met eier. Sprinkel sade oor. Bak 20-30 minute tot goudbruin en gaar.
  5. Vir voorsit Roerbraai die tamaties in olie tot die velletjie oopbars, geur met sout en peper en roer die pesto en basilie by.