Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: sowat 2½ uur

2 kg lamsboud of -blad, in 2-3 cm-blokkies gesny

sout en vars gemaalde swartpeper

90 ml (6 e) olyfolie

3 uie, grof gekap

4 knoffelhuisies, fyn gekap

15 ml (1 e) Moroccan Spicespeserypoeier

5 ml (1 t) fyn komyn

2 cm vars gemmerwortel, geskil en gerasper

4 ryp pruimtamaties, geskil, ontpit en dan in blokkies gesny

500 ml (2 k) mediumdroë witwyn

500 ml (2 k) hoenderaftreksel

200 g droëappelkose

vars koljanderblare

Geur die vleis met sout en peper, verhit van die olie en braai ’n paar blokkies vleis per keer oor baie hoë hitte.

Skep uit.

Verhit die res van die olie in die kastrol en roerbraai die uie, knoffel, Moroccan Spice, komyn en gemmer ’n paar minute.

Skep die vleis terug in die kastrol en roer die tamaties, wyn en aftreksel by.

Sit die deksel op en laat prut sowat twee uur of tot sag.

Voeg die appelkose by, geur na smaak en laat prut nog 20 minute.

Skep uit, garneer met vars koljanderblare en sit voor saam met koeskoes en groente.

WENKE

• Dis nie nodig om die vleis vooraf te braai nie. Maak eers ’n sous deur die uie en speserye te braai, voeg die tamaties, wyn en aftreksel by en laat prut tot sag. Voeg nou die vleis by en laat prut verder tot sag.

• Voeg ’n kaneelstok by die koeskoes vir ekstra geur en roer baie gekapte koljander in.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Huisgenoot 13 Mei 2010.