Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: 1 uur 35 min.

3 uie, grof gekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

2 cm gemmer, gerasper

sap van 1 suurlemoen

sout en vars gemaalde swartpeper

60 ml (¼ k) olyfolie

15 ml (1 e) matige kerriepoeier

5 ml (1 t) komyn

5 ml (1 t) fyn koljander

800 g lamsvleis, in blokkies gesny

250 ml (1 k) gewone jogurt

375 ml (1½ k) beesvleisaftreksel

250 ml (1 k) basmatirys

125 ml (½ k) lensies

5 ml (1 t) borrie

2 lourierblare

60 ml (¼ k) warm melk

3 hard gekookte eiers in kwarte gesny, vir voorsit

125 ml (½ k) rosyne en amandels

Voorverhit die oond tot 180 °C.

  1. Verwerk die uie, knoffel, gemmer, suurlemoensap, sout en peper in ’n voedselverwerker tot ’n pasta.
  2. Verhit die olie in ’n groot pot oor matige hitte en braai die uiemengsel en speserye 5 min.
  3. Meng die lamsvleis en jogurt. Keer die lamsvleis in die pot uit, verlaag die hitte en giet die aftreksel in. Kook bedek 45 min., verwyder die deksel en kook 15 min. of tot die vloeistof verminder.
  4. Kook die rys 15 min. in ’n pot effens gesoute water saam met die lensies, borrie en lourierblare. Dreineer goed en keer die rys oor die lamsvleis uit.
  5. Bedruip met die melk, bedek die kastrol met foelie en bak 30 min.
  6. Garneer met eier, rosyne en amandels en sit warm voor.

Deur Hope Malau

Foto: Misha Jordaan