Een van ons lesers, Julie, maak die ribbetjies in ’n oondbak in die oond gaar. Ons het, om elektrisiteit te spaar, die kookwerk op die stoof gedoen en die ribbetjies dan net vinnig onder die oondrooster gedruk om dit mooi bros buite-om te kry.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 45-60 minute

2 kg kort/platrib, in 1,5 cm-repe of 3 cm-stukke gesaag

sout en peper na smaak

olyfolie

3 knoffelhuisies, fyngedruk

1 klein ui, in stukke gesny

1-2 takkies vars roosmaryn

250 ml (1 k) rooiwyn

250 ml (1 k) beesaftreksel

soet brandrissiesous

suurlemoen en granaatpitte vir opdiening (opsioneel)

Probeer sover moontlik om die buitenste vet af te sny, anders raak die ribbetjies baie vetterig.

Geur goed met sout en peper en braai tot bruin in ’n goed verhitte pan waarin ’n klein bietjie olie verhit is.

Plaas die knoffel, ui, roosmaryn, wyn en beesaftreksel in ’n groot kastrol en verhit tot goed warm.

Voeg die ribbetjies by, bedek, verlaag die hitte en laat prut sowat 40 minute tot die ribbetjies sag is.

Verwyder die ribbetjies uit die beesaftreksel en plaas op ’n bakplaat.

Verf liggies met brandrissiesous indien verkies.

Verhit die roosterelement van die oond en rooster sowat 5 minute tot bruin.

Draai om, verf die ander kant en rooster tot bruin.

Sit voor met suurlemoen en granaatpitte indien verkies en aartappelskyfies. maak ’n sous met die pansappe.

Volg Huisgenoot op Twitter.