In die koue weer kry ’n mens lus vir heilsame kos. Hierdie varkskenkel-groenkerrie is ’n winterwenner.

Genoeg vir 4 – 6 mense

Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: 2 uur 45 min.

30 ml (2 e) koljandersaad

5 ml (1 t) komynsaad

5 ml (1 t) heel peperkorrels

3 groen brandrissies

3 sprietuie

5 knoffelhuisies, gekap

’n hand vol koljander, gekap

5 cm gemmer, gerasper

30 ml (2 e) vissous

45 ml (3 e) olyfolie

400 g klappermelk

10 ml (2 t) bruinsuiker

1 takkie sitroengras, gekneus

4 varkskenkels

sout

15 ml (1 e) groenkerriepasta

½ kool en mikrokruie, vir voorsit

  1. Verhit ’n pan oor matige hitte en voeg die koljander, komyn en peperkorrels by. Rooster 2 minute of tot geurig. Plaas in ’n verwerker en maal. Voeg die brandrissies, sprietuie, knoffel, koljander, gemmer, vissous en olie by. Maal tot glad.
  2. Meng die brandrissiepasta in ’n bak met die klappermelk, suiker en sitroengras.
  3. Vryf die varkskenkels met sout en plaas in ’n geoliede pot oor hoë hitte. Kook terwyl jy die skenkels omdraai tot oraloor goed verbruin.
  4. Verlaag die hitte, voeg die groenkerriepasta by, kook 2 minute en voeg dan die klappermelkmengsel en sowat 500 ml (2 k) van die water by om die varkskenkels te bedek. Laat prut 2 uur of tot die skenkels sag is. Haal die pot se deksel af en roer die kool en kruie in. Kook 30 minute en sit voor.