Aartappels en patats kan helaas nie gevries word nie, maar dié koekies wel.

Lewer 12-14 koekies

Bereiding: 15-20 min.

Gaarmaak: 45 min.

GROENTEKOEKIES

1 knoffelbol

1 kg patat of aartappels, geskil en gaar

60 ml (¼ k) pecorinokaas, gerasper

5-10 ml (1-2 t) kruiepasta (resep regs)

sout na smaak

125 ml (½ k) droë broodkrummels

olie om in te braai

VARKFILET

1 heel varkfilet

olyfolie

vars gemaalde swartpeper na smaak

sowat 60 ml (¼ k) kruiepasta (sien onder vir resep)

30-45 ml (2-3 e) Griekse jogurt

roketblare na smaak

KRUIEPASTA

Plaas 2-3 bos-sies (500-750 ml) koljanderblare in ’n voedselverwerker. Voeg 4 knoffelhuisies, 125 ml (½ k) elk ment, pietersielie en sprietui by. Geur met 5 ml (1 t) komyn, 5 ml (1 t) sout en die skil en sap van 1 suurlemoen. Kap fyn. Meng 90 ml (6 e) olie by. Hou in die yskas.

Voorverhit die oond tot 230 °C.

  1. Groentekoekies Draai die knoffelbol in foelie toe en bak 30 min. of tot sag. (Jy kan dit ook 2-3 min. mikrogolf.)
  2. Druk die patat of aartappels goed fyn.
  3. Sny die kop van die knoffelbol af en druk die puree uit.
  4. Meng dit saam met die kaas en kruiepasta by die fyn patats of aartappels in. Geur met die sout en rol in bolletjies. Druk effe plat en rol dan in die broodkrummels. Verkoel 'n halfuur.
  5. Verhit die olie in ’n pan vir vlakbraai en braai die koekies tot alkant bruin. Dreineer op kombuispapier. (Die koekies moet gaar en afgekoel wees voor jy dit vries.)
  6. Varkfilet Smeer die vleis met die olie en geur met die swartpeper. Smeer die helfte van die kruiepasta oor. Plaas op ’n bakplaat en laat staan ’n halfuur.
  7. Oondrooster sowat 10-15 min. (na gelang van die grootte van die filet). Laat 10 min. staan voor jy dit sny.
  8. Meng die jogurt met die orige kruiepasta.
  9. Sit die filet voor met die groentekoekies, kruiejogurt en roketblare.