FILET

1 heel beesfilet van 1,5 kg

olyfolie

sout en swartpeper

VULSEL

1 avokado, in skywe gesny

jong spinasieblare

roomkaasrol in peper gerol, in skywe gesny

sesamsaadjies, pangerooster

SMEERSOUS

10 ml (2 t) sojasous

10 ml (2 t) olie

5 ml (1 t) growwe mosterd

FILET

Sny oorlangs horisontaal oop, maar nie deur nie.

Druk platter met jou handpalm. Geur met sout en peper.

VULSEL

Pak die vulselbestanddele op.

Vou toe en bind vas met tou of steek vas met peuselstokkies.

SMEERSOUS

Meng al die bestanddele en smeer buite-om die filet. Laat staan vir 2 uur.

Braai op ’n riffelplaat tot bruin buite-om, maak die deksel toe en braai verder: Liggaar: 15-20 minute per 500 g plus 15 minute ekstra (interne temperatuur: 60 °) OF plaas in die oond vir nog 20 minute tot gaar volgens keuse.

Sny in skywe en sit voor met die volgende sous(e):

•Sampioen-en-groenpeperroomkaassous - ’n alles-in-een-sous wat alle smake sal bevredig.

Lewer 700 ml sous

Bereiding: 10 minute

Kooktyd: 30 minute

25 ml (5 t) botter

1 ui, fyn gekap

250 g klein knopiesampioene

250 ml (1 k) room of helfte witwyn

45 ml (3e) groenpeperkorrels

sout na smaak

100-200 g roomkaas

Smelt die botter, soteer die ui en sampioene tot sag, voeg die room en groenpeperkorrels by, verlaag die hitte en laat afkook tot ’n geurige dik sous.

Geur met sout en roer die roomkaas by.

•Bloukaassous - sit die bloukaassous voor saam met skywe vars avokado en roketblare. Geniet dit met ingemaakte groenvye-, gemmer- of heelmarmelade-konfyt.

Lewer 250 ml

Bereiding: 10 minute

Kooktyd: 20 minute

50 g botter

1 elk ui, prei en seldery, gekap

5 ml (1 t) gekapte knoffel

100 g bloukaas, gekrummel

250 ml (1 k) room

Smelt die botter en braai die ui, prei, seldery en knoffel tot sag.

Voeg die bloukaas en room by, roer tot gesmelt en kook af tot ’n geurige sous.

Variasie: Vir ’n laervetvariasie, vervang die helfte van die room met Griekse jogurt.

Volg Huisgenoot op Twitter.